Vrystaatse munisipaliteite wat onwettig kragtariefverhogings geïmplementeer het, moet nou aandui of hulle stappe gaan neem om inwoners te vergoed vir die onwettige hoër tariewe.
Die VF Plus het vrae in alle Vrystaatse munisipaliteite ingedien sodat die munisipaliteite wat nie aan die tersaaklike regulasies voldoen het nie, rekenskap moet gee oor hoe inwoners vergoed sal word.
Ingevolge die hofbevel in die aansoek van AfriForum teen Nersa in Junie vanjaar, mag net Letsemeng, Setsoto, Nketoana, Tswelopele, Moqhaka, Mohokare en Centlec in Mangaung hoër kragtariewe vir die huidige boekjaar hef.
Die hofbevel van die Pretoriase hooggeregshof en die onsuksesvolle aansoek deur Nersa vir verlof tot appèl, verhinder die ander dertien munisipaliteite om enige kragtariefverhogings te implementeer.
Die VF Plus eis ook dat die skuldige munisipaliteite moet aandui hoe daar teen betrokke amptenare wat nie die regulasies nagekom het nie, opgetree gaan word.
Die VF Plus het dieselfde vraag in die Vrystaatse wetgewer aan die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Saki Mokwena, gevra.
Die tyd het aangebreek dat munisipale amptenare wat nie wetgewing en regulasies nakom nie, verantwoordbaar gehou word en die regte van Vrystaatse inwoners beskerm word.