Die Gautengse regering kan nie langer toekyk hoe munisipaliteite nie hul mandaat uitvoer wat betref die onderhoud van stortingsterreine nie en sal dringend moet ingryp.
Die Gautengse portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, waarvan die VF Plus-lid die portefeuljekomiteevoorsitter is, is tans besig met oorsigbesoeke aan alle munisipale stortingsterreine om die omvang van die nienakoming van die afsetting van vullis by stortingsterreine te ondersoek.
Gauteng is die ekonomiese spilpunt van Suid-Afrika met ʼn hoë afvalafsetting, maar met beperkte stortingsterreine en beperkte ruimte vir die ontwikkeling van nuwe stortingsterreine.
Tans voldoen 14 stortingsterreine in Gauteng nie aan munisipale regulasies vir die storting van afvalmateriaal nie.
In Johannesburg voldoen die Ennerdale-, Goudkoppies-, Mari Louise- en Robinson Deep-stortingsterreine nie aan die regulasies nie.
In die Tshwane-metro is dit die Bronkhorstspruit-, Ga-Rankuwa-, Hatherley-, Onderstepoort- en Soshanguve-stortingsterreine.
In Ekurhuleni is dit die Platkop-, Rietfontein-, Rooikraal-, Simmer- en Jack- en Weltevreden-stortingsterreine.
In Mogale City het die situasie só handuit geruk dat die stortingsterrein wat ook nie aan munisipale standaarde voldoen nie, brande veroorsaak omdat vullis nie na wense gekompakteer word nie. Die situasie het ‘n beduidende invloed op die lugkwaliteit.
Munisipale stortingsterreine ondervind ook uitdagings met plakkers wat langs die terreine woon en herwinningsmateriaal bymekaar maak om later te verkoop. Hulle beweer sindikate val hulle aan en neem hul materiaal af.
Een so ʼn brandpunt is Plastic City in Ekurhuleni wat deur onwettige immigrante bewoon word.
Die nedersetting is langs die Boksburg-stortingsterrein. Die lugbesoedeling van Plastic City deur die brand van plastiek en buitebande word so ver as Brakpan-Noord en -Sentraal versprei.
Die inwoners se bestaan sentreer uit die versamel van plastiek en voertuigbande wat vanaf die stortingsterrein verkry word en aan herwinningsondernemings verkoop word.
Die tekort aan beskikbare stortingsterreine is problematies weens die finansiële implikasies van lisensiëring en ontwikkeling van geïntegreerde afvalsgeriewe en tydraamwerke wat nodig is om sulke geriewe te vestig.
Die VF Plus sal die saak met erns benader om werkbare oplossings vir stortingsterreine te vind en in werking te stel.