fbpx
Vryheidsfront Plus

NMBM-burgemeester kerjakker oorsee terwyl metro uitmekaarval

Terwyl die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) steier onder swak dienslewering, vervalle infrastruktuur en misdaad wat inwoners teister, kerjakker sy burgemeester, Gary van Niekerk en ander hooggeplaastes oorsee met dié metro se noodfondsgeld.

Van Niekerk het die afgelope paar maande reeds drie oorsese reise onderneem.

Hy sal voorts die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, vanaf 24 tot 31 Augustus vergesel na die stad Ningbo in China. Dit skynbaar omdat daar reeds ʼn ooreenkoms tussen dié stad en die NNBM bestaan.

Luidens ʼn verslag wat voor die burgemeesterskomitee gedien het, is daar 41 afwykings met die aanwending van noodfondse.

Een daarvan is die sewe dae lange reis in Junie vanjaar wat Van Niekerk en sy adjunk, Balalwa Lobishe, onderneem het om die 2024-Maritime Silk Road Port Co-operation Forum in Ningbo by te woon.

Luidens ʼn verslag het dié reis R409 231 gekos.

Nog ʼn afwyking was die onlangse reis van Khanya Ngqisha, politieke hoof van infrastruktuur en ingenieurswese, en vier ander amptenare na Florida.

Die reis het na bewering R831 996 gekos.

Die VF Plus kan geen regverdiging vind vir hierdie oorsese reise en dit met noodfondse nie.

Indien die NMBM enigsins voordeel getrek het uit die oorsese reise, kon die onkostes daaraan verbonde nog verskoon word, maar al wat hier gebeur, is dat amptenare met belastinggeld betaalde vakansies onderneem.

Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie vergrype deeglik ondersoek word en indien fondse ongeregmatig aangewend is, dit verhaal moet word van die onderskeie amptenare.

Daar kan nie langer toegekyk word hoe munisipale amptenare inwoners se belastinggeld misbruik nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.