Die VF Plus het ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien teen mev. Disebo Motaung, die direkteur van korporatiewe dienste by die Nketoana-plaaslike munisipaliteit vir vermeende haatspraak en aanhitsing tot geweld in ‘n WhatsApp-boodskap.
Die VF Plus het die MRK versoek om die omstandighede rondom die uitlating te ondersoek en die toepaslike aanbevelings te maak.
Die boodskap is Maandag versprei nadat Motaung na bewering op ‘n WhatsApp-groep vir senior bestuurders van die Nketoana-munisipaliteit gereageer het op ‘n koerantberig oor ‘n mens se regte onder dwang, met die uitlating: “The best is to kill the boer.”
Hierdie soort uitsprake is onaanvaarbaar, veral deur ‘n senior bestuurslid van ‘n munisipaliteit.
Die boodskap is nie net in Nketoana nie, maar regoor die Vrystaat versprei.
Die VF Plus het ook in ‘n brief aan die munisipale bestuurder, mnr. Nlapho, geëis dat dissiplinêre stappe teen Motaung geneem word om te wys dat die munisipaliteit nie diskriminasie en haatspraak sal duld nie.
Dit is nie die eerste keer dat die VF Plus optree teen haatspraak soos hierdie nie.
Die party is reeds lank besig met ‘n deurlopende stryd om sulke gevaarlike en verdelende uitsprake te laat stopsit.
Uitsprake soos hierdie hoort nie in die samelewing nie en ondermyn pogings om ons land en sy mense te verenig.