Die VF Plus in die Oos-Kaap het sterk beswaar aangeteken teen die voorgestelde naamsverandering van Port Alfred na iCawa of iCoyi, asook die verandering van Kowierivier na iQoyi.
Hierdie veranderinge, soos voorgestel deur die Oos-Kaapse geografiese name-komitee, hou ’n beduidende risiko in vir die plaaslike ekonomie, toerisme en gevestigde gemeenskapsidentiteit.
In ’n skrywe aan die speaker van die Ndlambe-plaaslike munisipaliteit, mnr. Andile Marasi, en aan die Oos-Kaapse geografiese name-komitee se voorsitter, mnr. Christian Martin, beklemtoon die VF Plus die feit dat die party die erkenning van inheemse erfenis ondersteun, maar nie ten koste van ’n gevestigde toerismemark wat oor dekades opgebou is nie.
Port Alfred en die Kowierivier is plaaslik en internasionaal bekend as gesogte toerismebestemmings. ’n Naamsverandering kan jare se bemarking en beleggings in een slag ongedaan maak.
Die verandering van die dorp en rivier se naam sal ook groot koste meebring wat klein ondernemings, toerisme-operateurs en die munisipaliteit nie kan bekostig nie. Dit kan ook toeriste verwar en ontmoedig, wat direk werksgeleenthede en inkomste sal raak.
Die party sê die fokus in die streek behoort eerder te wees op dringende probleme soos watertekorte, swak paaie, werkloosheid, behuisingstekorte en stygende tariewe.
Daar kan nie miljoene rande bestee word aan naamsveranderinge terwyl basiese dienslewering in duie stort nie.
’n Peiling deur Sunshine Coast Tourism toon dat 93% van inwoners teen die naamsverandering is. Die wil van die meerderheid inwoners moet weerspieël word en die sterk teenkanting van die gemeenskap moet deurslaggewend wees in die saak.
As alternatief kan die historiese inheemse name erken word met ’n dubbele benaming of erfenisbordjies, sodat sowel die inheemse kultuur asook die toerisme-identiteit behoue bly.
Die VF Plus sal die openbare vergadering hieroor op 10 September bywoon om mondelings beswaar aan te teken teen die beoogde verandering en het versoek dat ’n spreekbeurt vir rekorddoeleindes gereserveer word.


