Die VF Plus het die Ekurhuleni-metro gewaarsku om nie te gemaklik te raak met sy se huidige bankbalans van R1, 1 miljard wat gelykstaande is aan slegs 21 dae se bedryfskoste nie.
Hierdie syfer is bekendgemaak in die vierde finansiële kwartaalverslag van die 2024/25-finansiële jaar.
Die syfer is misleidend omdat dit nie die R5,79 miljard se lopende rekening van Eskom en R439 miljoen aan Rand Water insluit nie. Dit sluit ook nie ander groot diensverskaffers se rekeninge in nie.
Die VF Plus bly egter van mening dat die syfer (R1 167 420 063,94) ’n rekeningkundige illusie skep wat die publiek mislei oor die stad se werklike likiditeit. Indien alle groot skuld gelyktydig betaal sou word, kan die werklike kontantvloei tot minder as 10 dae se bedryfskoste daal.
Die VF Plus veroordeel die praktyk waar groot skuldeisers se betalings doelbewus nie in die verslag aangeteken is nie en hierdie rekeninge eers ná die verskyning van die verslag vereffen sal word.
Volgens die stad sal sy uitstaande Eskomrekeninge binne 30 dae vereffen word en is daar sedert 26 Februarie 2025 ’n formele betalingsreëlings met Eskom wat nagekom word.
Met Rand Water word grootmaatfakture volgens ’n tweedelige paaiementstruktuur betaal (60% binne 30 dae en 40% binne 45 dae).
Die stad beklemtoon dat hy nie op hierdie reëlings in gebreke gebly het nie.
Die VF Plus erken hierdie reëlings, maar wys daarop dat sulke betalingsplanne nie die werklike omvang van die stad se skuld verminder nie en dit steeds ’n groot risiko vir dienslewering en finansiële volhoubaarheid inhou.


