fbpx
Vryheidsfront Plus

Munisipale staking bereik krisisstatus

Die munisipale staking van werknemers van die Mangaung-metro het nou krisisstatus bereik, het dr. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus-raadslid in die metro gesê.

Snyman-van Deventer meen dat die geweld, intimidasie, eiendomsbeskadiging en sabotasie wat met die staking gepaardgaan nie strook met ‘n wettige, beskermde staking nie.

“Hierdie staking moet nou onwettig verklaar word en werkers wat hieraan deelneem se salarisse moet weerhou word,” het sy gesê.

Die staking wat sedert 16 Mei voortduur beïnvloed alle vorme van dienslewering en noodsaaklike munisipale funksies.

Munisipale personeel wat wel opdaag vir diens vrees vir hul lewens nadat voertuie wat gebruik is om noodsaaklike basiese dienste te voorsien aan die brand gesteek is.

Skadu-personeel moet deur die polisie begelei word wanneer hulle uitgeroep word vir herstelwerk van onder andere dreine en waterpype. Opsetlike kragonderbrekings kom ook in veral die Botshabelo-area voor.

Snyman-van Deventer het gesê dat misdadigers in baie gevalle die staking oor die arbeidsgeskil tussen die munisipale vakbond SAMWU en die metro as verskoning gebruik om misdade te pleeg.

“Die VF Plus veroordeel hierdie misdadigers en werkers wat hulself aan misdade gedurende die staking skuldig maak. Dit is onaanvaarbaar dat die vakbond nie orde gedurende die staking handhaaf nie.

“Dit is ontoelaatbaar vir lede van ‘n beskermde staking om skade aan infrastruktuur aan te rig en ander misdade te pleeg. Die metro behoort teen werkers wat hulself daaraan skuldig maak op te tree en hulle af te dank,” het Snyman-van Deventer gesê.

 

Kontakbesonderhede: 082 305 1540

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.