Die Tlokwe-plaaslike munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp insluit, se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) is ontoereikend, onvoldoende en gegrond op ongelyke en verkeerde prioriteite, het Fanie du Toit, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit na die pas afgelope begrotingsvergadering gesê.
“Die VF Plus kan nie ‘n plan ondersteun wat nie alle inwoners van die Tlokwe-munisipaliteit se belange bevorder nie. Huiseienaars se belange moet ook bevorder en beskerm word, het Du Toit gesê.
Volgens Du Toit behoort die doel van ‘n GOP die bevordering van die gemeenskap se grondwetlike reg tot behuising en noodsaaklike infrastruktuur te wees, maar die ANC-beheerde munisipaliteit gebruik nou die plan om verkeerde prioriteite en hul tanende steun in die munisipale gebied te probeer bevorder.
Du Toit het gesê dat die regerende party die GOP gebruik om eerder die samesmelting van die Potchefstroom- en Ventersdorp-munisipaliteite te bespoedig en om onder andere ook die ontwikkelingsgeskiedenis van die verlede te vernietig, om dorpe en informele nedersettings te herstruktureer en om projekte, soos die sogenaamde Vyfhoek-projek te befonds en te bevorder.
“Die Vyfhoek-projek stel die oprigting van lae- en mediumkoste behuising in die omgewing van Van der Hoff-Park, Baliepark en Tuscany Ridge binne die volgende 5 jaar in die vooruitsig. Dit kan die markwaarde van huise in dié woongebiede geweldig negatief beïnvloed en tot finansiële nadeel van huiseienaars lei.
“Soortgelyke projekte, soos die Mooibank/Eden-projek is reeds goedgekeur waar soortgelyke behuising ontwikkel gaan word. Die munisipaliteit behoort op die bestaande projekte te fokus en te sorg dat inwoners van beide formele en informele nedersettings eerder behoorlike dienslewering ontvang as om populistiese uitlatings en leë beloftes te maak.
“Die VF Plus staan die GOP, met sy verkeerde prioriteite, sowel as die goedkeuring van die Vyfhoek-projek teen en win tans ‘n regsmening in ten einde die oprigting van die projek te stuit, het Du Toit gesê.
Kontakbesonderhede: 079 885 1135