fbpx
Vryheidsfront Plus

MRK moet ophou voete sleep oor geboelie van Afrikaanse studente van US

Die menseregtekommissie (MRK) is op onaanvaarbare wyse besig om voete te sleep oor die geboelie van Afrikaanse studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US).

Deur die situasie onbepaald te laat voortduur, word ‘n toksiese omgewing geskep waar wrywing tussen studente oor taal groot skade aan menseverhoudinge aanrig.

Die VF Plus het in 2021 ‘n klag by die MRK ingedien oor soortgelyke boeliegedrag aan die US waar Afrikaanse studente in Stellenbosch en elders verbied is om selfs in hul koshuiskamers of in private gesprekke met mekaar Afrikaans te praat.

Die MRK het die saak ondersoek, en het ook, na ‘n uitgerekte proses in Oktober verlede jaar ‘n verslag met voorlopige bevindinge uitgebring.

Daar is egter ‘n streng embargo op die verslag geplaas wat die VF Plus eerbiedig. Die embargo was om alle belangegroepe die geleentheid te bied om hul kant van die saak te stel.

Dit is nou reeds twee jaar na die voorval en vyf maande nadat die verslag voltooi is en die VF Plus is van mening dat dit werklik ‘n billike geleentheid aan alle belangegroepe gebied het om kommentaar te lewer.

Diegene wat dit tot nou toe nie gedoen het nie, is duidelik besig om die proses doelbewus uit te rek. Dit is onverantwoordelik van die MRK om dit toe te laat terwyl die situasie by US ongehinderd voortduur.

Die VF Plus is van mening dat ‘n sterk bevinding en riglyne aan alle rolspelers oor die aangeleentheid kan help om die probleem tot ‘n groot mate op te los.

Tot in hierdie stadium is dit duidelik dat die universiteit se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, nie bereid is om stappe te neem teen studente wat medestudente intimideer en dreig om nie Afrikaans te praat nie.

Sekere studente het nou weer klagte by die MRK ingedien met die hulp van die organisasie Studenteplein.

Luidens Netwerk24 het André Gaum, ‘n kommissaris van die MRK, nou ook gesê; “enige verbod of poging tot verbod op ‘n amptelike taal in ‘n sosiale konteks is ongrondwetlik en moet onmiddellik stopgesit word”. (Spreek studenteleiers aan wat glo Afrikaans verbied aan die US, 15 Februarie 2023).

Hy sê voorts die verbod om Afrikaans te praat, is ‘n “skending van die Afrikaanse studente se menseregte”.

Dit is dus duidelik dat die MRK ‘n sterk mening oor die aangeleentheid het. Praat alleen help egter nie en die VF Plus doen ‘n beroep om die kommissie om sonder meer sy verslag uit te reik sodat duidelike riglyne gestel kan word.

Dit is onaanvaarbaar om ander se menseregte ongestraf te skend en dit is ewe onaanvaarbaar vir die MRK om niks daaraan te doen nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.