Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Debat in Wes-Kaapse wetgewer oor provinsiale rede-2023: Alles onder ANC verander in ‘n ramp

Alle beplanning vir 2024 moet verreken sodat Suid-Afrika dan ‘n nuwe regering kan hê, want onder die ANC het alles in ‘n totale ramp ontaard.

Die DA moet hierdie dinge in gedagte hou wanneer daar gespeel word met die idee om ná die 2024-verkiesing ’n politieke huwelik met die ANC aan te gaan.

Hy moet besef dat die SAKP en Cosatu deel van hierdie poligamistiese verhouding sal wees.

Slegs 'n desperate dobbelaar sal geld op die DA plaas om in hierdie huwelik die septer te swaai. Dit sou naïef wees om te dink die ANC is rehabiliteerbaar.

‘n Skaap kan nie met 'n wolf trou om te oorleef nie. Net so sou dit dwaas wees vir ‘n kalkoen om ‘ n uitnodiging na ‘n Kersete te aanvaar. Behalwe as hy die hoofgereg wil wees.

Die ANC sou in só ‘n vennootskap sy pond vleis opeis en sal dan outomaties ook ‘n greep op die Wes-Kaap en die Gautengse metro’s kry. Dit mag nie gebeur nie.

Die ANC het selfs sy eie ondersteuners misbruik en in die steek gelaat.

Swart townships en informele nedersettings moes almal reeds tot armoede-brandpunte verklaar gewees het. Die wat daar woon, leef in die haglikste omstandighede denkbaar.

Watervoorsiening is 'n ramp, ablusiegeriewe is 'n ramp, werkloosheid is 'n ramp. Uitgehongerde gesinne is 'n ramp. Wet en orde is 'n ramp. Die staat self onder die ANC het in 'n ramp verander.

Kaderontplooiing het swart bemagtiging vernietig. Die massas het verarm ten koste van enkele kaders wat danksy politieke bande in weelde leef.

Die bandelose EFF se leiers is polities opgevoed deur die ANC se jeugliga. Sy lede tree bloot op soos wat die ANC self hulle geleer het.

Dan het president Cyril Ramaphosa homself boonop omring met onbekwame persone wat die land moet regeer.

Die ANC-regering word nou tot verantwoording geroep vir die misbruik van sy volgelinge. Die mense is besig om teen die ‘bevrydingsparty’ te draai.

Die voormalige Amerikaanse president George Bush het gesê mag word misbruik wanneer dit vir eie gewin gebruik word.

In hierdie opsig is die ANC-regering veel erger as sy voorganger. In die vorige bedeling is wittes bevoordeel. Die ANC bevoordeel net sy eie leierskap ten koste van sy ondersteuners.

Die swart massa se beloning om vir die ANC te stem is 'n T-hemp, 'n Streetwise KFC, 'n R350 Sassa-toelaag en die saamsing van struggle-liedjies.

Suid-Afrika het sterk manne en vroue nodig wat die land kan lei en sy waardigheid as 'n nasie kan herstel. Nie swak opportuniste nie.

Arrogansie en ambisie is 'n verskriklike tweeling en enige party wat ‘n ooreenkoms met die ANC wil aangaan, sal dit doen weens ‘n ongesonde versugting na mag en beheer.

Só ‘n party kan nie vertrou word nie. Die kiesers moet dit onthou in 2024.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.