Soos met die energiekrisis, sit Suid-Afrika met ’n misdaadprobleem wat rampspoedige vlakke bereik het en dringende aandag vereis voordat dit soos met Eskom te laat is om te red.
Altesame 27 066 mense is verlede jaar van Januarie tot Desember in Suid-Afrika vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Elke ander misdaadkategorie lees ewe skokkend.
Vandag se misdaadstatistiek vir Oktober tot Desember 2022 maak dit duidelik dat die minister van polisie, Bheki Cele, die stryd teen misdaad verloor het. ‘n Nuwe minister is dringend nodig om die situasie om te keer.
Die vraag is of president Cyril Ramaphosa bereid sal wees om op te tree, en of hy ook net sal toekyk terwyl misdaad verder buite beheer toeneem soos hy toegekyk het hoe Eskom op sy wagbeurt verval.
Alle misdaad in die kategorie waar misdaad teen die persoon gemik is (kontakmisdaad), het skerp toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede.
Dit sluit in moord (7 555, op met 10,1%), seksuele oortredings (9,6%), poging tot moord (24,3%), aanranding met die doel om ernstig te beseer (8,7%), aanranding (12%), roof (21,2%) en gewapende roof (10,8%). Die gemiddelde toename is 11,6%.
Wat seksuele oortredings aanbetref, het verkragting toegeneem met 9,8% en seksuele aanranding met 4,1%.
Verlede kwartaal was die toename in kontakmisdaad 14,75%.
Wat die gevreesde Trio-misdaadgroep aanbetref, het motorkapings (teenoor ’n jaar gelede) toegeneem met 2,8% en roof by woonhuise met 8,6%.
Rooftogte elders toon ’n geringe afname van 3% wat feitlik die enigste ligpunt is. Vragmotorkapings is egter op met 9,8%.
Die toename in die sogenaamde minder ernstige misdaad is ewe skerp.
Dit is die soort misdaad waarmee gewone Suid-Afrikaners daagliks mee te kampe het, soos inbraak in woonhuise (op met 7,4%), diefstal van motors en motorfietse (3,3%), diefstal uit motors (9,9%) en winkeldiefstal (23,3%) wat ’n groot invloed op hul alledaagse lewe het.
Dit beteken dat buiten die gevaar teen persone self, ook hul eiendom toenemend die teiken van misdadigers en raak.
Suid-Afrikaners wat reeds swaar gebuk gaan onder die krimpende ekonomie, moet groot kostes aangaan om hulself, hul geliefdes en eiendom te beveilig terwyl die polisie al hoe minder beskerming bied.
Die VF Plus sal ook wil sien of die polisie ag geslaan het op die ouditeur-generaal (OG) se bevinding verlede jaar dat die syfers wat die polisie in sy misdaadstatistiek bekend maak, nie korrek is nie.
Volgens die OG is die rede dat die statistiek in baie gevalle nie ooreenstem met die aantal misdaaddossiere nie.
Dit gebeur in baie gevalle dat mense wat misdaad aanmeld, nie eens ’n saaknommer ontvang nie.
Die VF Plus sal vrae in dié verband aan die minister rig om te verneem of daar enige stappe gedoen is om die probleem reg te stel.