Die VF Plus het die SA Menseregtekommissie (MRK) versoek om klagte te ondersoek teen die EFF-leier, Julius Malema, nadat hy mense onder meer aangehits het om onwettig grond van wittes af te neem en te beset, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor menseregte.
Die versoek is ook gerig dat die ondersoek saamgevoeg word met dié teen pres. Jacob Zuma waarmee die MRK nou reeds sedert Januarie verlede jaar sloer.
Die VF Plus het vandeesweek ook klagte by die MRK ingedien teen die vrou Palesa Sotjifa wat op Twitter glo onder meer die EFF sou aangehits het om wit mense te vermoor. Die MRK is ook gevra om te sê waarom hy nagelaat het om uit sy eie klagte van rassisme teen Sotjifa te ondersoek terwyl in ander gevalle en teen ander persone wel opgetree is sonder dat klagtes ingedien is.
Adv. Alberts sê die klag teen Malema hou verband met uitlatings wat hy luidens berigte op 26 Junie vanjaar in New Castle, KwaZulu/Natal gemaak het. Hy het glo onder meer gesê wittes het geen reg op grond in Suid-Afrika nie, en swart mense moet dit beset en eienaarskap daarvan neem.
Volgens adv. Alberts is dit ‘n uiterste vorm van aanhitsing tot geweld wat groot rassewrywing kan veroorsaak aangesien onwettige besettings ongetwyfeld tot geweld aanleiding kan gee.
“Sulke uitlatings is verdelend en het die potensiaal om ‘n bloedbad te veroorsaak indien mense in groot getalle gehoor gee daaraan.
“Dit is daarom verstommend dat die MRK nie uit sy eie sulke uitlatings ondersoek nie, maar in ander gevalle wel vinnig optree en mense swaar beboet.
“Die VF Plus vra die MRK nou reeds sedert voor die verkiesing in 2014 om klagtes van moontlike haatspraak en opsweping tot geweld teen Malema, pres. Zuma en van hul ondersteuners te ondersoek. Tot dusver was daar geen optrede nie.
“Na pres. Zuma se uitlatings in Januarie verlede jaar oor Van Riebeeck, het die VF Plus die MRK ook gevra om dit te ondersoek, en die kommissie het wel die president versoek om teen ‘n sekere datum verlede jaar op die klagte te reageer. Hy het die versoek bloot geïgnoreer en die MRK het niks daaraan gedoen nie.
“Eers nadat die VF Plus die MRK vanjaar hard oor sy gebrek aan optrede teenoor sekere mense begin aanvat het, onder meer ingevolge die Paia-Wet, is die ondersoek teen die president hervat. Die MRK moet besef hy is daar om die mense van Suid-Afrika sonder vrees of vooroordeel te dien.
“Die VF Plus is van mening dat die MRK met sy optrede tot dusver die indruk geskep het dat hy dit nie doen nie, en die party sal voortaan groot druk op die kommissie plaas om wel sy mandaat behoorlik uit te voer,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403