Die Vhembe-distriksmunisipaliteit (Louis Trichardt, Musina) in Limpopo het versuim om ‘n sperdatum te haal wat die menseregtekommissie (MRK) gestel het rakende die voortslepende watertekorte en het bevestig dat hy nou met hofaksie sal voortgaan.
Die VF Plus het die saak geïnisieer.
Tydens ’n telefoniese gesprek met die MRK se provinsiale senior regsbeampte, adv. Badantswana Munei, is daar aan die VF Plus bevestig dat dit die volgende stap is.
Die MRK het al elf waterdiensowerhede in die provinsie, waarvan die Vhembe-distriksmunisipaliteit een is, versoek om verslae uit te reik oor hoe owerhede die waterkrisis wat inwoners beleef, sal aanspreek.
Daar moes ook verslag gedoen word oor vordering wat gemaak is in ooreenstemming met die aanbevelings van die MRK om ʼn oplossing vir die krisis te vind.
Hierdie verslae moes teen 16 Januarie 2024 ingedien word.
Die MRK het ook bevestig dat hy nie vir die waterdiensowerhede enige uitstel sal gee om die verslae saam te stel nie en nou sal voortgaan met sy finale beoordeling van die huidige situasie ter voorbereiding van die hofsaak.
Die VF Plus is verheug dat daar nou tot die stap oorgegaan word ná die party se ingryping en sal sy samewerking gee waar nodig.
Gemeenskappe word gemaan om steeds geduldig te wees aangesien ’n hofaksie van hierdie aard steeds ’n geruime tyd sal neem.