Die Mpumalanga-regering moet verduidelik waarom die provinsiale regeringsgebou klaarblyklik onder die 50-jaar-vloedlyn gebou is.
Die wetgewer moes verlede week vir drie dae ontruim word nadat die Nelsrivier sy oewers oorstroom en hoog teen die gebou se onderste vlakke opgestoot het.
Groot dele van die elektriese heining om die gebou is met die rivier meegesleur. Dit het lewendige elektriese kabels oop bo die grond gelaat. Kantoortoerusting is ook meegesleur. Die rivier het plek-plek reg onder die eerste verdieping van die wetgewer tussen die steunpilare gestroom.
'n Kenner het aan die VF Plus bevestig dat die betrokke omgewingsdepartemente ná etlike jare steeds wag op die omgewingsimpakstudies en dat die wetgewer nie net onder die vloedlyn gebou is nie, maar inderdaad binne die rivieroewer.
Die gebou sou oorspronklik sowat R120 miljoen gekos het, maar die uiteindelike koste in 2004 tydens die amptelike oorhandiging, was ten minste R684 miljoen.
Die VF Plus het reeds kritieke vrae hieroor gestuur aan die LUR van openbare werke, paaie en vervoer, Mandla Ndlovu. Dit sluit in om die impakstudie aan die party voor te lê. Die VF Plus wil ook weet of die departement inspeksies gedoen het om seker te maak die gebou stort nie ineen nie.
Swaar reën en vloede in Februarie het reeds miljoene rande se eiendom en infrastruktuur vernietig en ten minste elf lewens geëis.
Weerdienste voorspel verdere swaar reën en donderstorms vanaf die komende naweek met die risiko van ‘n moontlike styging van watervlakke op die paaie na fratsvloede.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas om die veiligheid van die werknemers by die wetgewer te verseker en om toe te sien dat omgewingswette nagekom word.