Die VF Plus het in ʼn ledeverklaring in die Mpumalanga-wetgewer gewaarsku dat dié provinsie se jongmense toenemend vasgevang raak in ʼn vernietigende krisis van dwelmmisbruik en ʼn dringende beroep is op die LUR vir gesondheid, me. Sasekani Manzini, gedoen om die nodige stappe te neem om dit die hoof te bied.
Hierdie epidemie ontvou nie in die kollig nie, maar in klaskamers, huise en strate wat gesinne en gemeenskappe uitmekaar ruk.
ʼn Studie wat by vier hoërskole in Mpumalanga se landelike gebied gedoen is, toon dat 45% van leerders tussen 14 en 23 jaar die afgelope jaar dwelms gebruik het en dat alkohol die mees gebruikte middel (74%) is, gevolg deur sigarette (12%) met dagga in die derde plek (11%).
Die impak op gesinne en die gemeenskap is verwoestend met gesinne wat gebuk gaan onder die diefstal van besittings, slapelose nagte en die trauma dat die kinders besig is om hul toekoms te vernietig.
In Mpumalanga speel staatsgeriewe soos die Swartfontein Treatment Centre (Witrivier) en Nkangala Rehabilitation Centre (naby Ogies) ’n belangrike rol, maar hul kapasiteit is onvoldoende.
Lang waglyste beteken dat talle jongmense nie betyds hulp ontvang nie.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die LUR om opleidingsprogramme aangaande die gevaar van dwelmmisbruik by skole en in gemeenskappe te loods, toegang tot rehabilitasie uit te brei ongeag finansiële status en gesinne te ondersteun met berading, opvoedkundige hulp en gemeenskapsgegronde ingrypings.
Konkrete aksie is nodig – nie net nog beloftes en beleidsdokumente nie.
Elke dag sonder optrede beteken nog ʼn verlore kind, nog ʼn gesin opgebreek en ʼn toekoms verwoes.
Die jeug is ons toekoms. Ons mag hulle nie in die steek laat nie.


