Die ervaring van opposisiepartye is dat die Speaker van die Nasionale Vergadering met elke nuwe parlement toenemend sy of haar neutraliteit prysgee. Dit is waarom die opposisie se mosie van wantroue teen die Speaker onvermydelik was, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê artikel 43(3) van die Grondwet lui dat die Nasionale Vergadering verkies word om die mense van Suid-Afrika te verteenwoordig en om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker. Hy sê die Speaker is aan die hoof van die Nasionale Vergadering en verteenwoordig daarom al die mense van die land, en nie net die ANC nie.
Volgens dr. Mulder kom die naam en amp van Speaker van die Britse regeringstelsel. Wanneer die Britte ‘n Speaker verkies, moet ‘n kandidaat deur ten minste twaalf parlementslede genomineer word. Ten minste drie van die twaalf moet van ‘n ander party as die genomineerde wees. Die onpartydigheid van die persoon word hier reeds bevestig.
‘n Geslote verkiesing word dan gehou tot ‘n kandidaat ‘n absolute meerderheid verkry.
“Wanneer ‘n Britse Speaker verkies word, moet hy of sy absoluut neutraal wees en enige party-gebondenheid afsweer. Die persoon moet bande breek met sy of haar party en moet die neutraliteit selfs tot na aftrede behou.
“In Suid-Afrika het ons sedert 1994 ‘n mate van onpartydigheid gehad. Die Adjunkspeaker van die eerste parlement, dr. Bhadra Ranchot, was nie van die regerende party nie.
“In die tweede en derde parlemente was daar voorsitters van ander partye. Voorbeelde is Ben Skosana en Farouk Cassim van die IVP en Sandra Botha van die DA. In die vyfde en huidige parlement is vir die eerste keer die Speaker en al die voorsitters ANC-lede.
“Die Speaker is ook die voorsitter van die ANC wat beteken dat sy in die top-ses van die ANC elke Maandag in Luthuli-huis ontmoet om strategie teen die opposisie te bespreek. Dit maak die situasie dus onhoudbaar waar sy in ‘n pos is waar beslissings teen die ANC geneem moet word.
“In die ANC se mosie verlede week ten gunste van die Speaker, het hulle al haar prestasies as ANC-lid opgenoem. Dit is indrukwekkend en verklaar waarom sy adjunk-president was en tans ANC-voorsitter is. Maar dit is ook presies die redes waarom sy moeilik as ’n onverbonde objektiewe Speaker gesien kan word.
Die VF Plus glo dat ons nie langer kan wag dat hierdie parlement moet standpunt inneem oor die neutrale en objektiewe rol wat die Speaker moet speel nie. Daarom steun ons hierdie mosie,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670