Die VF Plus in die Vrystaat het eergister 'n verslag ontvang wat die toksisiteit van die water in die Valsrivier bevestig. Verskeie boere in die Bothaville omgewing het 'n toename in dooie visse in die rivier gewaar en die wetenskaplike ondersoek laat doen. Daar was ook gevalle waar beeste gesterf het.
Volgens VF Plus-raadslid, Thys Vermeulen, van die Moqhaka-munisipaliteit, spoel 75% van Kroonstad se riool in die Valsrivier. Twee-derdes van die rioolsuiweringswerke werk tans nie. Vermeulen beskou die onkundigheid en onbevoegdheid van munisipale amptenare as die oorsaak hiervan. Dit is 'n geweldige gesondheidsrisiko. Mense en diere wat hierdie rivierwater drink sal baie siek word en kan doodgaan.
Water is ‘n baie skaars kommoditeit in Suid-Afrika en moet met die uiterste sorg deur al die inwoners van die land hanteer word. Dit is totaal onaanvaarbaar dat Moqhaka-munisipaliteit en ander munisipaliteite op so ‘n minagtende wyse met die waterbronne te werk gaan.
Talle dorpe in die Vrystaat is gereeld sonder water wat ‘n geweldige probleem vir inwoners meebring. Munisipaliteite se arrogante houding jeens water is een van die vernaamste redes waarom dorpe gereeld sonder water is.
Die ANC-beheerde munisipaliteit se onbevoegdheid stel mense se lewens in gevaar en is teenstrydig met die grondwet van Suid-Afrika.
Die VF Plus eis onmiddellike ingryping deur die provinsiale en nasionale regering in hierdie verband.
"Daar is dringend verandering in Suid-Afrika nodig. Die komende verkiesing is van kardinale belang om protes teen die onbevoegde en korrupte ANC-regering aan te teken en teen die ANC te stem. Saam is ons sterker," het Wessels bygevoeg.
Wouter Wessels, LPW
082 674 6670