Vandag is bekend gemaak dat stemdag vanjaar op Woensdag 7 Mei sal wees. Daarom is dit nou van die grootste belang dat elke Suid-Afrikaner besin oor die belangrikheid van die verkiesing, en homself moet vergewis van die noodsaaklikheid daarvan om te stem sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
“Dit is insiggewend dat die verkiesing gehou word kort na Vryheidsdag op 27 April en Werkersdag op 1 Mei. Die rede is waarskynlik dat die ANC eers op staatsonkoste hierdie emosioneel gelaaide dae wil gebruik om groot 20 jaar herdenkings na 1994 te vier. Die hoop sal dan wees dat die emosies wat so oor 1994 opgewek is, sal oorspoel tot voordeel van die ANC se verkiesingsveldtog.
“In ons kiesstelsel tel elke stem. Daarom moet kiesers vir die party wie se waardes die naaste aan hom of haar is, gaan stem. Indien die publiek in groot getalle teen die ANC gaan stem, kan daar veranderings in die land kom. Daarom is dit so belangrik om hierdie naweek te registreer om te stem.
“Indien jy geregistreer is, kan jy steeds besluit om later nie te stem nie. Indien jy nie geregistreer is nie en jy sou dalk in die hitte van die verkiesingstryd kort voor stemdag besluit om tog te stem, is jou geleentheid daarmee heen,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403