Die moord op Joubert Conradie, die plaasboer van Klapmuts by Stellenbosch, was die katalisator vir gister se landwye Swart Maandag-protesaksie, en geen ander rede nie sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Dr. Mulder het vandag in ‘n parlementêre ledeverklaring gesê hy loof mense van alle rassegroepe in Suid-Afrika wat aan die veldtog deelgeneem het.
“Alles het verlede Dinsdag begin toe die lewe van die Conradie-familie van Klapmuts vir altyd ingrypend verander het.
“Drie boewe het die huis betree van ‘n gesin wat niks aan hulle gedoen het nie, hulle het Joubert Conradie doodgeskiet en soos lafaards die nag in weggehardloop. Ek het die begrafnis Saterdag bygewoon en met die familie gepraat.
“Daardie gebeurtenis was die katalisator wat veroorsaak het dat daar gister ‘n protesoptog regdeur Suid-Afrika was wat deur duisende mense bygewoon is.
“Twee dae gelede het die minister van polisie (Fikile Mbalula) ‘n twiet uitgestuur waarin hy die publiek waarsku teen die verspreiding van fopnuus. Gister toe doen hy dit self deur ‘n twitter-boodskap te herversprei wat sê hy sou Maandag nie swart dra nie aangesien dit ‘n rassistiese aksie is gegrond op ‘n leuen.
“Vir die minister wil ek sê dit is nie ‘n leuen vir die Conradie-familie nie. Dis die realiteit. Hul pa is ‘n week gelede vermoor. Ek wil daarom hulde bring aan mense van alle rasse wat aan die optog deelgeneem het,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 082 626 1497 / 065 801 7216