Inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is vandeesweek geskok met buitensporig hoë diensterekeninge.
Die VF Plus word oorval met oproepe hieroor en by nadere ondersoek is vasgestel dat inwoners van Kenmare en Silverfields se rekeninge oor 38 dae vasgestel is terwyl Noodheuwel se water- en kragverbruik oor ʼn tydperk van 48 dae gelees is.
Die meterlesings moet oor ʼn tydraamwerk van 30 dae strek.
Die blokstelsel vir kragverbruik wat steeds tot aan die einde van die finansiële jaar in werking is, plaas verbruikers in ʼn hoër tariefskaal indien dit nie binne 30 dae aangeteken en verwerk word nie.
Die party sal tydens ʼn gesamentlike portefeuljekomiteevergadering van die munisipale departemente van finansies en nutsdienste daarop aandring dat die saak ondersoek word.
Die Mogale City-munisipaliteit is besig om die stelsel te misbruik tot nadeel van die inwoners.
Die party dring ook daarop aan dat ʼn regstelling gedoen word.
Hierdie is ʼn kenmerkende voorbeeld van dié ANC-beheerde munisipaliteit waar wanbestuur aan die orde van die dag is om inwoners wat in die huidige ekonomiese toestand sukkel om kop bo water te hou, verder onder druk te plaas.
Dit is onaanvaarbaar en daarom moet inwoners sorg dat hulle geregistreer is om op 4 November te kan stem vir die VF Plus wat inwoners se belange eerste plaas.


