Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verheug dat Grondwethof kernpilaar van NGV verwerp

Die VF Plus is verheug oor die uitspraak van die Grondwethof vandag wat die sertifikaat van behoeftes, wat in die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) vervat is, ongrondwetlik verklaar. Dit was ‘n die kernpilaar van die NGV.

In die saak van Solidariteit, die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) en die Alliansie van Suid-Afrikaanse Onafhanklike Praktisynsverenigings en andere teen die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, is die hof versoek om ‘n 2024-hooggeregshofbeslissing dat artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet ongrondwetlik is, te handhaaf.

Dié beslissing is ‘n nekslag vir die NGV. Die sertifikaat van behoeftes, soos vervat in die NGV en die betrokke artikels, soos vervat in die Nasionale Gesondheidswet, gee aan die regering die mag om aan gesondheidspraktisyns voor te skryf waar hulle mag praktiseer en watter dienste hulle mag lewer.

Die VF Plus het jare gelede reeds in die parlement gewaarsku dat NGV-wetgewing gaan misluk indien die grondwetlikheid daarvan in die howe uitgedaag word.

Die VF Plus se regsmening wat in 2023 by die parlement ingedien is, het toé reeds aangedui dat die NGV nie ‘n grondwetlikheidstoets sal slaag nie en dat die regering nie aan gesondheidspraktisyns kan voorskryf waar hulle moet of mag werk of watter dienste gelewer mag word nie.

Die party het ook gewaarsku dat daar wesenlike kwelvrae rondom die struktuur, bestuur en finansiering van die fonds was en dat talle klousules in die wetsontwerp vaag was.

Die VF Plus het verder gewaarsku dat in stede daarvan om die wetsontwerp deur die parlement te stoomroller om die fonds op die wetboeke te kry, die fokus eerder moet wees om die bestaande openbare gesondheidstelsel te verbeter.

Ten spyte van hewige teenstand van Suid-Afrikaners, het pres. Cyril Ramaphosa voortgegaan en die wet kort voor die 2024-verkiesing onderteken.

Daar is tans verskeie hofsake teen die NGV aan die gang waarvan die grondwetlikheid en die openbare deelnameproses wat gevolg is, uitgedaag word. Daar word ook druk op pres. Ramaphosa geplaas om redes te verskaf waarom hy die wet onderteken het.

Die VF Plus het tydens verlede jaar se begrotingsdebat en stemming oor gesondheid, dit in die parlement duidelik gemaak dat die party nooit die NGV sal steun nie en die party is van mening dat vandag se uitspraak ‘n wekroep vir die president, die minister van gesondheid en die regering is om te besef dat die NGV dadelik gestaak moet word.

Daar moet teruggekeer word na die tekenbord om ‘n volhoubare stelsel te ontwerp wat vir beide die openbare- en private gesondheidsektor asook vir Suid-Afrika tot voordeel sal wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.