Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mogale City se onvermoë om infrastruktuur te beskerm en te onderhou lei tot totale ondergang

Die VF Plus het as voorsitter van die Gautengse wetgewerkomitee oor omgewing, landou en landelike ontwikkeling, die burgemeester van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift), Lucky Sele, voor stok gekry oor die totale verval van dié eens vooruitstrewende gebied in die Wieg van die Mensdom.

Sele het Dinsdag voor die komitee verskyn om onder meer verslag te doen oor die status van die Luipaardsvlei-stortingsterrein en Percy Steward-, Flip Human- en Magaliesrioolwerke.

Die Luipaardsvlei-stortingsterrein is verlede jaar vir drie maande gesluit nadat ʼn brand daar uitgebreek het. Die brand kon nie dadelik geblus word nie omdat daar geen brandkraan op die terrein was nie.

Die munisipaliteit het met druk van die VF Plus en die komitee begin om stelsels in plek te stel om ʼn toekomstige brand te kan bestry. Die stortingsterrein voldoen egter steeds nie aan die Nasionale Omgewingsbestuurswet nie.

Die Percy Steward en Flip Human-rioolwerke is al vir jare wanfunksioneel. Onverwerkte riool word in riviere gestort wat baie ondernemings en boere dwing om hul aktiwiteite te staak weens die slegte reuk en besoedelde water. ʼn Forelplaas kan nie langer water uit die Bloubankspruit gebruik nie en gastehuise het hul deure gesluit weens die onuithoudbare reuk.

Die vyfjaar oue Magalies-rioolwerke is veral ʼn groot sondebok met die storting van riool in die Magaliesrivier wat later uitmond in Hartbeespoortdam.

Volgens die burgemeester het Mogale City sowat R500 miljoen begroot om besoedelde spruite en riviere skoon te maak om die water weer bruikbaar te kry vir mens en dier. Dit is egter ʼn druppel aan die emmer om die grootskaalse besoedeling van natuurlike waterbronne aan te spreek en sal nie die probleem oplos solank as wat die rioolwerke wanfunksioneel is nie.

Rioolstortings het reeds by die Brickvale-behuisingskema plaasgevind en die party is van mening dat die watersuiweringsaanleg wat by die Sefularo-behuisingskema geïnstalleer word, ontoereikend en feilbaar is.

Dié behuisingskemas is opgerig en toegang is aan inwoners gegee sonder die nodige infrastruktuur.

Die VF Plus en die komitee het onderneem om aan te hou om druk op Mogale City te plaas om sy plig na te kom om ʼn omgewing te skep wat veilig is vir inwoners om in te leef en werk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.