Die VF Plus het die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se finansiële afdeling wat verantwoordelik is vir die uitstuur van diensterekeninge, gemaan om toe te sien dat inligting korrek en volledig op rekeninge verskyn.
Op die Maart-rekeninge is geen BTW aangedui nie en die faktureringsperiode is ook nie vermeld nie. Só ’n rekening is ongeldig, aangesien ’n belastingfaktuur volgens die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW-wet) en die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) die volgende moet bevat:
• Die bedrag van BTW wat gehef word
• Die presiese faktureringsperiode waarop die rekening betrekking het
• Basiese identifiserende besonderhede van die verbruiker en die diensverskaffer
Wanneer hierdie kernvereistes ontbreek, mag die rekening nie uitgereik word nie, omdat dit nie aan wetlike en administratiewe standaarde voldoen nie.
Dit veroorsaak groot frustrasie onder belastingbetalers en kan tot verkeerde invordering lei.
Hierdie is nog ’n voorbeeld van die Munsoft-stelsel wat maand na maand verkeerde of onvolledige rekeninge aan inwoners stuur. Die stelsel se herhalende foute – van ontbrekende BTW tot verkeerde periodes en onvolledige data – wys dat die munisipaliteit nie die nodige interne beheermaatreëls toepas nie. Dit ondermyn die vertroue van inwoners en maak behoorlike finansiële bestuur feitlik onmoontlik
Indien die fakturering verkeerd is, kan dit ook gebeur dat die volgende maand se rekening as agterstallig aangedui word, waarna rente gehef word ten koste van inwoners wat reeds hul verpligtinge wou nakom.
Die VF Plus het in ’n skrywe aan die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Victor Molefe, en die stadsbestuurder, Mokhosana Msezana, versoek dat die saak dringend ondersoek word en dat inwoners se rekeninge reggestel word om verdere verwarring en onregverdige kostes te voorkom.


