Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mogale City moet skuld kry vir brand by Jan Lotz-stadion

Die oorsaak van die groot brand wat die Jan-Lotz-stadion in Krugersdorp se rugbyveld gisteraand (13 Julie) vernietig het, kan net voor die deur van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit gelê word.

Die VF Plus het die munisipaliteit herhaaldelik versoek om die gras binne en buite die stadion te sny. Dit het nie gebeur nie.

Die rugbyveld was oorgroei met lang gras en onkruid.

Die stadion grens aan die Bob van Reenen-stadion wat eens die trots van Krugersdorp was, maar ook totaal vervalle is en met indringerbosse, onkruid en lang gras oorgroei is. Bekende Suid-Afrikaanse sporthelde het by die Bob van Reenen-stadion aan verskeie sportsoorte deelgeneem.

Die munisipaliteit het 20 jaar gelede die Bob van Reenen-stadion gedeeltelik gestroop om plek te maak vir ʼn nuwe sokkerstadion wat as die tuiste van Kaizer Chiefs-sokker klub sou dien. Dit het nie gebeur nie.

Die Gauteng-provinsie het in sy 2014/15-finansiële begroting ʼn bedrag van R314 miljoen begroot vir die opgradering van die Bob van Reenen-stadion se kleedkamers en ander geriewe. Kort ná die voltooiing is wasbakke, toilette, krane en meer uit die mure gebreek en weggedra. Selfs die transformator is gesteel. Slegs die mure het oorgebly.

Vandag is die tartanbaan gekraak en met onkruid oorgroei, die fietsrybaan is vol slaggate, die gimnasium se mure is gemuf en die klubhuis se dak het meegegee.

Die Bob van Reenen- en Jan Lotz-stadions is ʼn monument van die ANC se wanbestuur met geen politieke wil om ʼn sport-tuiste vir skoolkinders van die Wes-Rand te vestig nie. Dit is veral kleiner skole wat nie finansieel daartoe in staat is om behoorlike sportgronde te bou nie wat die meeste ly.

Die VF Plus het die munisipaliteit verskeie keer gewaarsku om die oorblywende infrastruktuur van beide stadions te onderhou, maar het nie daaraan gehoor gegee nie.

Sondagaand se brand is die resultaat van Mogale City se laksheid om munisipale infrastruktuur te onderhou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.