Terwyl die wêreld vandag Internasionale Moedertaaldag vier, ervaar Afrikaanssprekendes toenemend die miskenning en onderdrukking van hul eie taal.
Die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) het Moedertaaldag ingestel ter bevordering van taal en kulturele diversiteit.
Maar terwyl taaldiversiteit, waarvan moedertaalonderrig ‘n integrale deel vorm, wêreldwyd gevier word, is Suid-Afrika se eie inheemse tale, veral Afrikaans, onder skoot van die Suid-Afrikaanse regering.
Dit is uiters kommerwekkend dat wetgewing, soos die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, van skole se taalbeleid ‘n politieke speelbal sal maak.
Indien die voorstelle in hierdie wetsontwerp aanvaar word, sal dit die mag oor skole se taalbeleid in die hande van provinsiale regerings en LUR’e vir onderwys plaas, insluitende karakters soos Panyaza Lesufi.
Lesufi het al deur middel van sy optrede en uitsprake bewys dat hy Afrikaans-medium skole verag en die taal in die basiese onderwysspektrum wil uitroei.
Dit sal lynreg teen grondwetlike bepalings oor taal en kultuurerfenis indruis en ‘n tree agteruit wees vir meertaligheid, diversiteit en die vooruitgang van al ons inheemse tale in Suid-Afrika.
Dit is wetenskaplik bewys dat moedertaalonderrig aan leerders ‘n akademiese voorsprong gee. Die departement van basiese onderwys het reeds in 2010 in ‘n verslag bevind dat 65% van alle graad 4-leerders onderrig in Engels ontvang het, maar dat slegs 8% van dié leerders se huistaal Engels was.
Twaalf jaar later sien hierdie prentjie al hoe meer koloniaal daarna uit met Engels wat as medium in al hoe meer onderriginstellings gebruik word ten koste van Suid-Afrika se eie, unieke taalsamestelling.
Die ANC-regering se onvermoë om behoorlike basiese onderwys aan leerders te voorsien, hou direk verband met die feit dat moedertaalonderrig afgeskeep word.
Suid-Afrika se inheemse tale het ‘n ryk en diverse geskiedenis wat gekoester, bevorder en gevier behoort te word.
Tale het ingewikkelde gevolge vir identiteit, kommunikasie, sosiale integrasie, die oordrag van waardes, opvoeding en ontwikkeling.
Dit is meer as net ‘n voertuig vir die oordra van kennis of onderrig en moet sodanig hanteer word. Dit is ons as Suid-Afrikaners se plig om nie toe te laat dat toenemende globalisering, die onvermoë van die regering, asook die ontbrekende politieke wil van die ANC daartoe lei dat ons inheemse tale skade ly nie.
Wetgewing wat van taal ‘n politieke speelbal wil maak, moet ten alle koste teengestaan word.
Daar moet aangedring word op die uitvoering van grondwetlike bepalings oor taal en kultuurregte, provinsiale taalwette moet toegepas word en ons moet in ons gemeenskappe ons eie taaldiversiteit bevorder.