fbpx
Vryheidsfront Plus

Makhura dien dieselfde ou gefaalde resep op vir Gauteng se ontwikkeling

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Hierdie gesegde kry gestalte in die ANC-regering se plan vir Gauteng soos uiteengesit in die premier, David Makhura, se 2022-provinsiale openingsrede vandag.

Die premier het in sy toespraak weer verwys na die ou ontwikkelingsplan, die GGT2030, wat nog voor die Covid-19-pandemie saamgestel is.

Nie net is die plan gebrekkig nie, maar neem nie die nuwe Covid-19-omgewing en skade wat dit veroorsaak het, in ag nie.

Die plan is geskoei op die misplaasde idee dat regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) die ekonomie laat groei terwyl die teenoorgestelde waar is.

In wese is al wat gefasiliteer word, korrupsie en die grootskaalse diefstal van openbare fondse.

Die ANC se plan het nog geen nuwe groot beleggings na Gauteng gelok nie. Dit word bewys deurdat die nuwe spesiale ekonomiese sones, jare nadat dit gestig is, nog nie wesenlike beleggings ontvang het nie.

Die ekonomiese sone vir die motorbedryf in die Tshwane-metro bestaan uit bestaande motorvervaardigers wat besluit het om uit te brei.

Die enigste gebeure van belang by die lugvaart ekonomiese sone in Centurion is die brand by die Waterkloof Lughawe.

By die Oos-Randse Aerotropolis-sone is dit die heroopmaak van die OR Thambo-internasionale lughawe na die pandemie.

Daar is eenvoudig geen beleggers wat belangstel in Gauteng nie.

Dit is interessant dat die premier nie veel substantief gesê het oor die grootskaalse Covid-19-korrupsie in die Gautengse departemente van onderwys en gesondheid nie en ook nie hoe die probleem aangespreek gaan word nie.

Hierdie korrupsie het juis plaasgevind onder die dekmantel van SEB.

Dit is duidelik dat die ANC nie wil erken dat die kern van sy ekonomiese program niks anders is nie as ‘n netwerk van misdaad wat dienslewering en die brose ekonomie beskadig.

Makhura het wel verwys na die regering se anti-korrupsiebeleid en -raamwerk van 2016, maar dit is duidelik dat dit nie werk nie.

Die grootste Covid-19-korrupsie in die land het in Gauteng se departemente plaasgevind.

Alhoewel talle wetstoepassingsagentskappe, soos die spesiale ondersoekeenheid (SOE) nou betrek is by die ondersoeke is dit te laat om die skade ongedaan te maak.

Dit is duidelik dat die ANC baie geduld met korrupsie en diefstal het aangesien die motief vir die gedrag deel van die ANC se etos is. Die party is onredbaar.

Die premier se plan om ‘n provinsiale oorlogskamer te skep om die ekonomiese eise te takel, klink met die eerste oogopslag sinvol omdat die privaatsektor blykbaar ook betrek sal word om ekonomiese planne op te stel ten einde werkloosheid te bekamp.

Dit is egter gedoem aangesien die samewerking geskoei is op die implementering van RA en SEB in stede van meriete wat die vryemark vereis.

Laastens het die premier erken dat misdaad soveel in Gauteng toegeneem het, dat dit neig om werkloosheid verby te steek as primêre kwessie.

Sy oplossing is egter net om weer staat te maak op die Gautengse polisie wat wesenlik gekompromitteer is weens onder meer swak opleiding, interne korrupsie en ‘n gebrek aan toerusting soos padvaardige voertuie.

Die ANC moet in 2024 verslaan word. Die VF Plus is gereed om deel te wees van die nuwe koalisie-regering wat Gauteng sal oorneem.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.