Die mobiele biblioteek in Kagiso in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is ʼn ramp wat wag om te gebeur.
Dié biblioteek, geleë in Pillanstraat, word met ysterpype en bakstene bo die grond gehou wat die struktuur onstabiel en gevaarlik maak.
Die VF Plus het tydens ʼn oorsigbesoek van die munisipaliteit se komitee van sport, kuns, kultuur en rekreasie, sy kommer oor die veiligheid van die werkers en gebruikers van die biblioteek uitgespreek.
Skoolkinders maak veral van die biblioteek gebruik vir werksopdragte en daar kan nie toegelaat word dat hul veiligheid in gevaar gestel word nie.
Die party het ook tydens die oorsigbesoek die ligging van die mobiele biblioteek in Rietvlei bevraagteken. Alhoewel die biblioteek van hoë gehalte en in ʼn uitstekende toestand is, is dit reg langs ʼn vleiland geleë waar riool vryelik uit ʼn stormwaterpyp vloei.
Die stank is ondraaglik en hou gesondheidsgevare in vir werkers en besoekers aan die biblioteek.
Die toestand van die mobiele biblioteek in Kagiso en die bedenklike ligging van die een in Rietvlei, skep ernstige vrae oor wie by die munisipaliteit die projekte goedgekeur het.
Die VF Plus het in ʼn brief aan die burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir die departement, Cynthia Mankazana, gevra vir onmiddellike ingryping by beide die geriewe.
Toegang tot ’n ordentlike biblioteek is nie net ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklike brug tussen potensiaal en geleentheid, veral vir skoolkinders wat nie internettoegang by die huis het nie.


