Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni moet Mainreefweg dringend herstel en onwettige mynbedrywighede beëindig

Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die Ekurhuleni-metro om onmiddellik op te tree en ’n multidissiplinêre taakspan saam te stel om die vervalle Mainreefweg te herstel en onwettige mynbedrywighede in die omgewing te beëindig.

’n Gedeelte van Mainreefweg, wat langs die informele nedersetting Plastic City in Brakpan verbyloop, is sedert November 2020 gesluit weens Zama-Zama-aktiwiteite wat die padinfrastruktuur vernietig het.

Motoriste word nou gedwing om ’n gevaarlike ompad deur Plastic City te gebruik om woongebiede en fabrieke te bereik. Dit veroorsaak nie net ongerief nie, maar hou ook ernstige veiligheidsrisiko’s in vir motoriste.

Voorvalle van geweld in Plastic City is ook aan die toeneem met verskeie noodlottige skietvoorvalle wat aangemeld is.

Die nabygeleë Weltevreden-vullisterrein is ’n verdere brandpunt, waar skietvoorvalle plaasvind en toegangsbeheer ontbreek.

Gemeenskapswoede het op 9 September tydens ’n vergadering van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) hoog geloop, met inwoners wat gewaarsku het dat hulle self sal optree indien owerhede nie dringend ingryp nie. Dit is ʼn gevaarlike draaipunt wat onmiddellike aksie vereis.

Ten spyte van R500 000 wat reeds aan beplanning bestee is en ’n verdere R5 miljoen wat oor twee finansiële jare begroot is, is daar geen herstelwerk aan Mainreefweg gedoen nie.

Die VF Plus het reeds in Junie 2023 ʼn ingrypingstudie versoek, maar ná meer as 24 maande en ten spyte van die verhoogte risiko’s, is dit steeds nie voltooi nie.

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die burgemeesterskomiteelid van paaie, stormwater en vervoer, Andile Mngwevu, geëis dat die volgende maatreëls rakende die situasie ingestel word:

• ʼn Taakspan saamgestel word uit die metro se betrokke departemente, die Ekurhuleni-metropolisie, polisie, binnelandse sake en plaaslike GPF om oplossings te vind om die gebied te beveilig en die pad te herstel.
• Deurlopende gesamentlike operasies om onwettige mynbedrywighede te staak, beslag te lê op wapens en toerusting, tonnels te verseël en sekuriteit te herstel.
• Toegangsbeheer by die Weltevreden-stortingsterrein verhoog word en herwinningsaktiwiteite beheer word.
• ʼn Geotegniese opname en ʼn realistiese finansiële plan vir die volle herstel van Mainreefweg.
• Verslagdoening aan die GPF en relevante oorsigkomitees.

Die VF Plus sal voortgaan om wetstoepassers en burgerlike organisasies te steun in die stryd vir ’n wettige, veilige en volhoubare oplossing vir die herstel van Mainreefweg en die beëindiging van onwettige mynaktiwiteite.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.