Hier volg uittreksels uit VF Plus-LPW, Tammy Wessels, se toespraak tydens die begrotingsposdebat van die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling, klein besighede, toerisme en omgewingsake vandag in die Vrystaatse Wetgewer.
Die departement van ekonomiese ontwikkeling se hoofdoel is om die ekonomie te stimuleer deur ‘n gunstige klimaat vir entrepreneurskap en klein besighede te skep om sodoende die privaatsektor in staat te stel om werk te skep vir die gemeenskap van die Vrystaat en nie om self werk te skep nie.
Die staat kan nie die enigste werkskepper wees nie. Dit lei tot verhoogde salarisrekeninge waarvan die geld baie beter bestee kan word op dienslewering en is nie volhoubaar nie.
Feeste en projekte wat deur die departement aangebied en bestuur word behoort ook selfonderhoudend te wees. Die Philip Sanders-oord naby Bloemfontein is in 2010 met R150 miljoen gerestoureer, maar staan vir die afgelope agt jaar in ‘n toestand van verval as gevolg van swak bestuur. Miljoene rand word op die Blommefees in Parys bestee en hoewel dit noodsaaklik is vir toerisme en omgewingsbewusmaking om sulke vertoongeleenthede te hê, maak die fees geensins ‘n wins nie. Dit is nie volhoubaar nie en baat slegs ‘n paar individue as gevolg van vergrote tenders vir goedere en dienste.
Die departement is ook veronderstel om buitelandse beleggings te bekom en te behou, maar projekte wat deur die buiteland gefinansier is, soos die Xhariep-visteelprojek staan in onbruik en baat slegs ‘n klein deel van die gemeenskap.
Die departement het verskeie doelwitte vir die komende jaar, maar die belangrikste hiervan moet wees die stimulering van die Vrystaat se ekonomie en werkskepping. Daarsonder sal enige ander projek van geen waarde wees nie.
Kontaknommer: 082 490 6663