fbpx
Vryheidsfront Plus

Misdaadstatistiek: Effense stabilisering, maar groot taak wag om hoë vlakke om te keer

Die polisie se jongste statistiek dui op ’n effense stabilisering in verskeie kategorieë misdaad, maar ’n groot taak wag om die land se uiters hoë misdaadvlakke om te keer.

Moord en poging tot moord het toegeneem met 8,9% en 3,5% onderskeidelik. Die moordsyfer verteenwoordig sowat 37 per 100 000 van die bevolking teenoor ’n wêreldgemiddelde van 7 per 100 000. Dit is aanduidend van die land se hoë misdaadvlakke.

Die aantal gevalle van vigilantisme en boendoehof-geregtigheid in die moordsyfer, wys dat die publiek hul vertroue in die polisie verloor het en toenemend die reg in eie hande neem.

Wat die gevreesde trio-misdaadgroepe aanbetref, het roof (10 524 gevalle) en roof met verswarende omstandighede (34 143) met onderskeidelik 11% en 1,3% afgeneem, terwyl roof by woonhuise (5 760) met 0,4% afgeneem het. Die derde trio-misdaad, motorkaping, het egter met 13,8% toegeneem tot 5 455. Dit is 661 meer as die 4 794 van die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Net so het vragmotorkaping met 2,8% toegeneem tot 448 gevalle en daar was 6 gevalle van bankroof teenoor slegs 1 in dieselfde tydperk in die voorafgaande drie jaar.

Wat geslagsgeweld aanbetref, het moord en poging tot moord op vroue toegeneem, maar dit is verblydend dat verkragting (11 315) en seksuele aanranding (2 069) afgeneem het met 7,4% en 13,4% onderskeidelik.

Dit bly egter steeds onaanvaarbaar hoog en die VF Plus is van mening dat dit insiggewend sou wees om te sien in hoeveel gevalle van verkragting, moord en poging tot moord op vroue, die slagoffer wel voor die misdaad ’n klag of klagtes by die polisie ingedien het oor onder meer gesinsgeweld.

Die VF Plus het vandag in die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie aan die minister van polisie, Bheki Cele, asook aan die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, voorgestel dat hierdie statistiek bygehou word.

Minister Cele het onderneem om daaroor in gesprek te tree en die VF Plus sal dit met hom opneem aangesien dit in die toekoms ’n sterk voorkomende rol kan speel wat geweld teen vroue aanbetref.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.