Die dood van ‘n tweede sekuriteitswag by die suiwelmaatskappy Clover in Olifantsfontein tydens ‘n gewelddadige en onwettige staking, is onaanvaarbaar en die VF Plus Gauteng het Gauteng se polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, dringend versoek om streng op te tree teen die stakers.
Die sekuriteitswag (56) is vanoggend dood toe stakers hom en drie ander sekeriteitswagte met klippe bestook het. Sy vuurwapen is ook afgeneem.
Luidens berigte het die eerste voorval op 22 Januarie plaasgevind toe ‘n sekuriteitswag, Tsephe Molatsi, ‘n Clover-afleweringsvoertuig teen stakende werkers wou beskerm.
Die staking vind sedert verlede jaar November by sowat tien aanlegte oor die land plaas wat Clover se produksie ontwrig.
Die staking wat nou lei tot die dood van onskuldige mense kan nie toegelaat word nie en die polisie moet alle mag gebruik om dit stop te sit.