Die geldspoor kan net gevolg word om vas te stel toe hoe ‘n mate die minister van mineralebronne toegelaat het dat sy departement deur staatskapers oorgeneem is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor mineralebronne.
Adv. Alberts het met die begrotingdebat vir die departement gesê niks by die departement het verbeter sedert die minister, Mosebenzi Zwane, daar aangestel is nie.
“Ons hoor steeds net van transformasie, nou genoem radikale ekonomiese transformasie, maar wat eintlik net kode is vir die intensivering van die stroping van bates tot voordeel van ‘n paar selektiewe enkelinge terwyl die meeste mense in die land steeds honger gaan slaap.
“Wat ons wel van bewus is, is die minister se besoek aan die grootbaas van Glencore in Switserland om hom te oorreed om hul Optimum-myn aan die Gupta-beheerde Tegeta Exploration and Recources te verkoop.
“Daarna het mnr. Brian Molefe dié transaksie moontlik gemaak deur ‘n hoogs onreëlmatige vooraf-betaling aan Tegeta vir steenkool wat nog gelewer moes word deur Optimum.
“Die minister wou op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus nie sê watter persone buite regeringskringe saam met hom Switserland toe is nie alhoewel hy erken het daar is iemand saam en daar kan net oor die identiteit van die persoon gegis word. Die VF Plus sal aanhou krap hieroor tot die waarheid uitkom.
“Die valse bewering van die minister dat banke wat rekeninge van die Gupta-familie gesluit het ondersoek gaan word, is ook veelseggend. Dit sluit perfek aan by die gebeure rondom sy inmenging in die koop van Optimum deur Tegeta.
“Die Gupta-seine word al hoe duideliker en mens kan die kolle begin verbind vir ‘n kommerwekkende beeld wat ontvou: een van staatskaping in die algemeen en gevange ministers in die besonder.
“’n Mens kan net wonder wat volgende gaan uitkom. Gelukkig weet ons nou al waar om te kyk: Volg die spoor van kernkragsentrales, steenkoolvoorsiening aan Eskom, mynlisensies in beskermde gebiede, en waar die geldspoor in die algemeen loop.
“Die wiel draai egter. In die kort termyn sal enkelinge voordeel trek uit hierdie korrupsie, maar uiteindelik is dit onvolhoubaar en sal daardie selfsug deel word van die asdromme van die geskiedenis soos die mense opstaan en hulle kruisies elders trek in 2019,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403