Die minister van hoër onderwys moet teen hierdie tyd besef dit is gevaarlik om valse beloftes te maak nadat hy gesien het hoe gou die “Fees-Must-Fall”-veldtog in “Blade-Must-Fall”- en “ANC-Must-Fall”-veldtogte verander, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.
Adv. Alberts het vandag met die begrotingposdebat in die parlement aan die minister gesê ‘n mens moet waak teen leë beloftes, veral waar die regering beloftes aan die publiek maak aangesien dit jou vinnig in die hakskeen kan byt.
Hy sê die VF Plus neem kennis van die minister sê uitlating dat die vervanging van pres. Thabo Mbeki met pres. Jacob Zuma niks gedoen het aan die fundamentele probleme in die land nie.
“Ons wil die minister daarop wys dat ‘n groot ingryping nodig is om die land uit sy krisis te ruk en dat die ANC self in die proses ingrypend sal moet verander. Een van die kernprobleme is dat die Soviët-geïnspireerde Nasionale Demokratiese Revolusie deel van die ANC-alliansie se DNA is wat nou op homself keer met swak dienslewering en leë beloftes.
“Die regering sit met ‘n mens-probleem wat gebore is uit ‘n denkprobleem. Hy probeer mikro-bestuur op alle vlakke in die samelewing toepas, insluitend hoër onderwys, terwyl hy in werklikheid nie die vermoë het om ‘n geveg in ‘n kroeg te inisieer nie.
“Die ANC-alliansie se denke en revolusie is wesenlik ver van die realiteit verwyder. Daarom word universiteite en ander tersiêre instellings toegelaat om veeltaligheid uit te faseer en diversiteit te ondermyn terwyl dit presies is wat die land van die regering vra.
“Hoe moeilik is dit om veeltaligheid in elke hoër onderrig-instelling te verwesenlik? Ons het dan vertalingsdienste in die parlement! Ons het die tegnologie en die kundige mense, maar die werklike probleem is dat die politieke wil ontbreek.
“Wat gratis onderrig aanbetref kan die ANC-alliansie nie ontken dat hy aan stuur van die land se ekonomie gestaan het sedert 1994 nie. Indien daar behoorlike regering was, sou gratis onderrig moontlik haalbaar of gedeeltelik haalbaar gewees het. Daar is egter vasgeklou aan die ideologiese mite van ‘n Nasionaal Demokratiese Revolusie. Die les is dat mensgemaakte politieke revolusies net afbreek, en nie opbou nie.
“Die kreeftegang van ons universiteite op die internasionale toneel is sprekend hiervan,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403


