Een ligpunt in Suid-Afrika is dat die land se regbank tot ‘n groot mate nog vertroue by die publiek inboesem nadat die ANC-regering reeds daarin geslaag het om die geloofwaardigheid van die wetgewende- en uitvoerende gesag te ondermyn, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Hy sê dit is daarom jammer dat die regering duidelik probeer om die regbank ook te ondergrawe alhoewel hy die beeld probeer voorhou dat hy dit wel respekteer.
Dr. Mulder het die Sassa- en Omar Al-Bashir-aangeleenthede as voorbeeld genoem en gesê die ANC het die uitspraak van die hof in dié gevalle openlik geminag. Hulle het nie gedoen wat die howe hulle gelas het om te doen nie.
“Daar is tans ‘n fel politieke stryd in die land aan die gang en dié geveg beweeg nou na die howe. Die howe wil nie betrokke raak nie. Dis nie die taak van ‘n hof om hierby in te meng nie.
“Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit baie duidelik in sy aanhef dat die land se waardes gesetel is in die Grondwet en die onafhanklikheid van die regbank en artikel 2 van die Grondwet bepaal dat enige wet wat hiermee strydig is, ongeldig is.
“Die geskiedenis sal wys dat die land se wetgewende gesag, die parlement, die land gefaal het. Maar dit is nie die hele parlement nie. Dit is die regerende party wat sy meerderheid gebruik en misbruik het om die uitvoerende en regsprekende gesag te ondermyn.
“Die VF Plus sal wil sien dat die regbank se hand gesterk word en dat dit vir hom moontlik is om voort te gaan met sy goeie werk,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403