Die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, moet aan die parlement verantwoording doen vir die grootskaalse korrupsie van nagenoeg R300 miljoen in sy departement deur die Nasionale Loteryeraad (NLR).
Dit volg op ‘n verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging voorgelê is waarin aangedui word dat 50 afsonderlike sake van korrupsie en wanbesteding teen die NLR ondersoek word.
Die voormalige voorsitter van die raad, Alfred Nevuthanda, die voormalige raadslid, William Huma en die geskorste bedryfshoof, Philemon Letwaba, word onder andere ondersoek.
Die volgehoue korrupsie in staatsdepartemente hou ‘n bedreiging in vir volhoubare ekonomiese ontwikkeling, ‘n etiese waardestelsel en geregtigheid.
Die Suid-Afrikaanse samelewing word gedestabiliseer en die demokrasie word ondermyn.
Die VF Plus dring daarop aan dat die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) teen die skuldiges optree.