Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) sal dringend moet optree om sy finansiële posisie om te keer aangesien uitstaande skuld aan die munisipaliteit die afgelope vier jaar met meer as R800 000 per dag gegroei het vanaf sowat R1,3 miljard tot sowat R2,5 miljard op 31 Januarie vanjaar.
Hierdie is een van die grootste uitdagings waarmee die nuutverkose koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, gekonfronteer word.
Volgens Mogale City se aansuiweringsbegroting beloop die invordering van munisipale skuld 89% teenoor die begrote 90%.
Die munisipale raad het besluit om ‘n proses van samewerking met inwoners en sake-ondernemings te begin om hul te oortuig om hul uitstaande rekeninge te vereffen eerder as om dienste aan wanbetalers onmiddellik te staak.
Die huidige negatiewe ekonomiese klimaat, wat ‘n direkte gevolg is van die ANC se wanbestuur en wat vererger deur die Covid-19-pandemie, het talle inwoners en ondernemings finansieel op hul knieë gedwing.
Daar kan egter nie toegelaat word dat agterstallige skuld verder groei nie en die VF Plus sal sy koalisievennote mobiliseer om strenger kredietbeheermaatreëls in werking te stel indien die proses van oorreding nie vrugte afwerp nie.
Die VF Plus doen ‘n beroep op al die inwoners van Mogale City om dringend hul agterstallige diensterekeninge te vereffen of om reëlings te tref vir die afbetaling daarvan om die opskorting van dienste te voorkom.
Die VF Plus sal inwoners bystaan met die proses.
Navrae: 082 806 7891