fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister kan nie met sekerheid sê hoeveel polisielede strafregtelik aangekla is oor laaste vier boekjare nie

Die minister van polisie is nie in staat om te sê hoeveel polisielede die afgelope vier boekjare in hegtenis geneem is in verband met ernstige misdaad nie en gebruik ʼn gebrekkige stelsel as verskoning om die omvang van die probleem te verbloem.

Minister Bheki Cele het in antwoord op ’n parlementêre vraag van die VF Plus verskeie redes aangevoer oor waarom die volledige syfers nie beskikbaar is nie.

Dit kom daarop neer dat daar wel afsonderlike stelsels vir verskillende afdelings en vlakke in die polisie is waarop die inligting gehou word, maar nie ʼn finale, betroubare databasis waar waarop al die data byeengebring en geverifieer word nie. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).

Volgens die minister word daar tans gewerk aan ʼn stelsel om al die inligting byeen te bring en te verifieer. Dié stelsel behoort teen 30 September vanjaar in werking wees.

Die VF Plus het aan die minister gevra hoeveel polisielede in die boekjare sedert 2019-20 in hegtenis geneem is in verband met moord, roof en verkragting. In ’n afsonderlike vraag is die minister ook gevra hoeveel lede in hegtenis geneem is in verband met veediefstal, plaasmoord, transito-rooftogte en ontvoering.

In sy antwoord sê die minister onder meer hy is ten volle bewus van die “ernstige implikasies” van polisielede se betrokkenheid by misdaad en veral van die impak daarvan op die publiek se vertroue in die polisie.

Hy sê ʼn analise oor die aangeleentheid het egter aangetoon dat daar teenstrydighede bestaan tussen die fisieke saakdossiere en die provinsiale- en nasionale databasisse oor sake waarby polisielede betrokke is.

ʼn Stelsel moet daarom in plek kom om al hierdie inligting byeen te bring, te kontroleer en te verifieer. Totdat dit afgehandel is, sou dit “skadelik kon wees vir die betrokkenes” om inligting bekend te maak.

Die VF Plus vind die situasie kommerwekkend en sou van die minister wou weet hoe lank polisiebestuur al bewus is van die gebrekkige stelsel. Dit is onaanvaarbaar dat die minister van polisie geen duidelike idee het van die omvang van misdadigheid onder sy lede deur ʼn databasis wat gereeld opgedateer word nie.

Sonder gedetailleerde inligting kan daar geen voorkomende stappe in plek gestel word om misdadigheid onder lede te voorkom of om daadwerklik met probleme te handel nie. Die VF Plus sal gewis daarop aandring dat antwoorde op die vrae teen 30 September verskaf word.

Intussen kan die publiek nie kwalik geneem word indien hulle besig is om toenemend vertroue in ’n polisiediens te verloor wat deur onbevoegde persone bestuur word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.