Die VF Plus het vandeesweek die menseregtekommissie (MRK) vergesel tydens ʼn ondersoek na omgewingsbesoedeling, gesondheidsgevare, onwettige storting van gevaarlike afval en die vryelike vloei van onverwerkte riool in die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit.
Dit was die MRK se tweede besoek aan dié munisipaliteit wat Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo en Lothair bedien.
Die VF Plus het reeds op 10 Oktober, 2022 ʼn klag by die MRK ingedien en gevra vir ʼn ondersoek na die besoedeling van die omgewing.
Dit word veroorsaak deur riool wat uit foutiewe rioolaanlegte stroom asook die haglike toestand van plaaslike vullisterreine.
Breyten se inwoners ly al vir langer as drie jaar onder ʼn voortslepende waterkrisis. Menige inwoners het vir langer as tien maande geen water nie. Verskeie pogings van die VF Plus om met die munisipale bestuur tot ‘n ooreenkoms te kom aangaande waterverskaffing, het geen vrugte afgewerp nie.
Teen Maart 2023 was daar steeds geen noemenswaardige poging van die MRK om ‘n ondersoek te doen nie.
Dit het eers gebeur ná druk van die VF Plus.
Die MRK het Breyten die eerste keer op 13 Junie besoek. Dit het ʼn ondersoek na ʼn watersuiweringsaanleg ingesluit.
Die MRK het ná die besoek ʼn verslag aan die munisipale bestuurder, mnr. Maqhawe Kunene, gestuur. Dit het ook pertinente vrae ingesluit.
Met die MRK se tweede besoek hierdie week is die ondersoek uitgebrei na ander kwessies soos die water- en kragkrisis in Ermelo, rioolkwessies, projekte en die toestand van paaie en vullisterreine in Ermelo, Breyten en Chrissiesmeer.
Die MRK sal ook oor die opvolgbesoek ʼn verslag aan die munisipale bestuurder stuur.
Die VF Plus sal nie ophou werk om toe te sien dat dienslewering verbeter nie.
Daar is eindelik net een manier om Msukaligwa van totale ondergang te red en dit is om van die onbevoegde ANC ontslae te raak.


