Die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus die skrikwekkende verval van die watergehalte in die land onder ANC-beheer bevestig.
Die departement van water en sanitasie (DWS) moes gedurende 2022 en 2023 onder meer 277 aanmanings van nienakoming aan 61 waterdiensowerhede landwyd uitreik nadat ʼn Bloudruppel-oudit gedoen is.
Dit dui op die geweldige agteruitgang van Suid-Afrika se watersuiwerings- en voorsieningsvermoë weens onder meer die verval van kritieke waterinfrastruktuur.
In 2022 is 344 rioolaanlegte met kritieke probleme by 90 munisipaliteite geïdentifiseer. Ten spyte van ernstige aanmanings om regstellende stappe te neem en herstelplanne in te dien, is slegs 168 of 50% van sulke planne by die departement ingehandig.
Ten spyte van 49 strafregtelike sake wat teen die betrokke munisipaliteite en/of verantwoordelike amptenare geopen is, is daar weinig sprake van suksesvolle vervolgings.
Hierdie skokkende syfers belig weer hoe diep die ANC-kultuur van wetteloosheid in munisipaliteite ingewortel is.
Nieteenstaande die feit dat hierdie wanbestuur lei tot die grootskaalse besoedeling van die land se waterbronne, ploeter die ANC-regering voort met allerlei ideologies gedrewe prioriteite en beleide.
Dit gebeur terwyl hulle Suid-Afrikaners se basiese reg tot skoon water en ʼn gesonde leefomgewing vertrap.
Kiesers moet met hul stem verseker dat die ANC op 29 Mei uit regering verwyder word en vervang word met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus ʼn integrale deel vorm.
Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.