Die VF Plus het gister tydens die spesiale raadsvergadering van die Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville en Oranjeville) waar die posisies van onder andere burgemeester en speaker verkies is, geweier om die mandaat wat sy kiesers hom tydens die afgelope herverkiesing van die raad gegee het, te verloën, sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en onderleier in die Vrystaat.
“Dit is betreurenswaardig dat die DA gekies het om as tweede grootste party in die raad naas die ANC die kleiner EFF se speaker- en burgemeesterkandidate te ondersteun. Die VF Plus wou egter die DA-raadslid, Arnoldi du Plooy wat voor die ontbinding van die raad as speaker gedien het, as speaker nomineer. Die DA het egter die nominasie geweier en die EFF-kandidaat ondersteun. Daardeur het die DA sy getroue kiesersbasis verloën.
“Geen enkele party het tydens die herverkiesing van die raad 'n meerderheid van setels bekom nie en dus moet verskillende partye saamwerk om 'n regering te vorm. Die VF Plus het tydens sy verkiesingsveldtog belowe dat hy in koalisie met ander partye sal gaan om die ANC uit bewind te hou, maar dat die party ook nie die EFF se mag sal versterk nie. Die VF Plus se aantal stemme het tydens die verkiesing met nagenoeg 40% gestyg wat duidend is op kiesers se ondersteuning van die VF Plus se standpunt in hierdie verband.
“Die VF Plus is van mening dat die EFF se mandaat en beleid tot nadeel van die mense van Metsimaholo sal wees en kon daarom nie vir die EFF-kandidate stem nie. So-ook kon die VF Plus nie die ANC-kandidate ondersteun nie aangesien die ANC reeds bewys het dat hy nie in staat is om te kan regeer nie. Die VF Plus het eerder bedorwe stembriewe tydens die verkiesing van hierdie ampte uitgebring, omdat daar nie buite stemming gebly mag word nie en beide partye se kandidate nie geskik is om die munisipaliteit effektief te regeer nie.
“Dit is onaanvaarbaar vir 'n party om sy kiesers in Metsimaholo se stemme te gebruik om 'n ooreenkoms te sluit om mag in ander munisipaliteite te behou ten koste van die inwoners se belange in Metsimaholo.
“Die ANC en SAKP misbruik ook Metsimaholo as 'n magspel ten koste van die inwoners se belange.
“Die VF Plus is egter verbind tot die uitvoering van sy opposisie-mandaat en sal voortgaan om sy kiesers se belange te dien en te beskerm. Die VF Plus bly beginselvas en sal nie sy kiesers versaak nie,” sê Wessels.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670