Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) doen ‘n beroep op die regering van Suid-Afrika om nie die Suid-Afrikaanse ambassade in Israel te laat afgradeer na ‘n skakelkantoor ooreenkomstig ‘n besluit deur die ANC se afgelope konferensie nie. Die regering van ‘n land het die verantwoordelikheid om besluite namens al sy burgers te neem en kan nie toelaat dat kleinlike politieke besluite van ‘n politieke party internasionale betrekking manipuleer nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die Israel-Palestynse vraagstuk is ingewikkeld en Israel as soewereine staat moet erken word. Die VF Plus het simpatie met die Palestyne se strewe na selfbeskikking en glo in ‘n vreedsame oplossing van die vraagstuk.
“Indien die Suid-Afrikaanse regering wel die besluit van die ANC uitvoer, kies hy kant teen Israel wat ‘n vreedsame oplossing sal vertroebel. Die Suid-Afrikaanse regering moet eerder onpartydig wees en pogings aanwend om ‘n vreedsame oplossing te vind.
“Die Suid-Afrikaanse regering moet onderskei tussen partybelange en landsbelange,” het Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


