Die uitspraak van die Grondwethof ten gunste van die nuwe taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat wat bepaal dat Engels die enigste taal van onderrig gaan wees, is 'n groot terugslag vir moedertaalonderrig en die ontwikkeling van inheemse tale in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê dit is 'n hartseer beslissing aangesien een van die mees basiese menseregte hierdeur ondergeskik gestel word aan wat kosmeties polities korrek is.
“Dit is betreurenswaardig dat moedertaalonderrig soos deur die Grondwet onderskryf, as 'n struikelblok vir rasseverhoudings gesien word en dat die Grondwethof die vorige parallelle taalbeleid die skuld vir rasse-segregasie gee.
“Die VF Plus is van mening dat die ANC-regering die afgelope 23 jaar die geleentheid gehad het om meer universiteite te bou en ander maatreëls in plek te stel om uitvoering aan die Grondwet se bepaling te gee wat lui dat elkeen die reg het om in die amptelike taal van sy of haar keuse onderrig te ontvang.
“Die uitspraak is ook teenstrydig met die internasionale reg wat moedertaalonderrig en interne selfbeskikking met betrekking tot onder meer taal, bevorder.
"In 'n land met elf amptelike tale moet die mediums van onderrig eerder uitgebrei word om meer tale in te sluit as om weg te neem en te verengels. Onderwyskundiges wêreldwyd is dit eens dat moedertaalonderrig akademiese prestasie bevorder.
“Maatskaplike sameklewing sal ook nooit bereik word wanneer mense se taalregte aangetas word en hulle ontneem word van die integrale boublokke wat hul identiteit vorm nie," sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 0823913117/ 065 801 7216