Die ANC-konferensie se besluit dat die land se grondwet gewysig moet word om grond te onteien sonder vergoeding is gevaarlik en bedreig die landbousektor, private grondbesit en ekonomie. Die besluit bedreig in wese alle private grondbesit en open die weg om later grond in Suid-Afrika te nasionaliseer, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
“Diegene wat glo dat die voorwaardes van die besluit dat voedselsekerheid en die ekonomie nie benadeel mag word nie, effektief die onteiening nie moontlik maak nie, word mislei deur mooi woorde. Cyril Ramaphosa is ‘n meester om klem te lê op die aspekte wat mense gemoedsrus gee, maar die interpretasie van die voorwaardes sal 'n ANC-interpretasie wees.
“Indien die Grondwet eers gewysig is, sal die interpretasie van voedselsekerheid so wyd geïnterpreteer word dat landbougrond onteien sal kan word sonder vergoeding.
“Ramaphosa het in sy afsluitingstoespraak by die ANC-konferensie die ANC geloof wat die ekonomie sedert 1994 gebou en bevorder het. Dit is ‘n ANC-interpretasie, maar die werklikheid is dat die ekonomie versleg het tot ‘n groeikoers van ‘n skrale 0,6 %.
“Ramaphosa het geen keuse as om die wil van die ANC uit te voer nie en hy as individu se magte is beperk. Indien die Grondwet eers gewysig is, is dit neusie verby vir private grondbesit op die langtermyn.
“Om die Grondwet van Suid-Afrika te wysig, het die ANC ‘n meerderheid van twee-derdes nodig wat hy nie het nie, maar die EFF het reeds sy steun gegee vir sodanige wysiging wat wel die vereiste twee-derde meerderheid sal verskaf.
“Die Vryheidsfront Plus sal alles in sy vermoë doen om hierdie wysiging van die Grondwet te verhinder,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216