(Parlementêre debat: Menseregtedag: Verskansing van ‘n menseregte-kultuur in die stryd teen rassisme, xenofobie en verwante onverdraagsaamhede)
Menseregte in Suid-Afrika is gister op Menseregtedag goed geïllustreer deur ‘n president wat vasgevang is in die verlede en nie streef na ‘n land waar al die inwoners veilig en geborge voel nie.
Terwyl pres. Cyril Ramaphosa uitgewei het oor die gevolge van kolonialisme en apartheid, het inwoners van Koster in Noordwes waar hy gepraat het, die gevolge van ANC-regering eerstehands beleef deur riool wat deur die strate vloei en ernstige waterkorte wat die dorp lank reeds teister.
Die president het ook versuim om te praat oor die nalatenskap van jarelange staatskaping, korrupsie en swak regering en die armoede en ongelykheid wat dit veroorsaak het.
Hy het verwys na die 70 mense wat meer as 60 jaar gelede in Sharpeville dood is asook die Skierlik-moorde 14 jaar gelede, maar het geswyg oor onmenslike menseregteskendings gedurende die 28 jaar van ANC-regering.
Een hiervan het vyftig jaar ná Sharpeville plaasgevind toe 34 stakende mynwerkers in Marikana ook in polisie-optrede dood is. Hierdie keer met die ANC aan bewind.
Meer onlangs, in 2016, was daar die Life Esidimeni-tragedie waar 144 weerlose psigiatriese pasiënte dood is van honger en verwaarlosing. Dit word algemeen erken as een van die grootste menseregteskendings onder die ANC. Daaroor is ook geswyg.
Collins Khosa is in 2020 doodgeslaan deur polisie- en weermaglede omdat hy glo drank op sy eiendom gehad het. Op 26 August 2021 het polisielede die ongewapende Nathaniel Julies doodgeskiet.
In 2018 het die Moerane-kommissie in ‘n verslag die vinger na die ANC se binnegevegte gewys as een van die bydraende faktore tot die groot aantal politieke moorde in die land.
Verlede jaar was daar groot lewensverlies en skade aan eiendom met die oproer in KwaZulu-Natal en Gauteng. Hieroor was die president ook stil.
Die ANC regering is duidelik die grootste enkele oortreder van Artikel 2 van Suid Afrika se Grondwet wat menseregte verskans.
Suid-Afrikaners betaal met nabelaste geld vir private mediese sorg, hulle moet self sorg vir beskerming deur alarmstelsels en private sekuriteitsmaatskappye wie se jaarlikse omset veel groter is as die jaarlikse polisiebegroting.
Gemeenskappe en ondernemings is dikwels sonder water en elektrisiteit en moedertaalonderrig in skole en tersiêre inrigtings word uitgefaseer.
Die lys van menseregteskendings onder die ANC hou aan en aan en is ‘n verdoemende aanklag teen die regering.
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, is reg as hy sê Menseregtedag behoort 'n wekroep daartoe te wees dat al die mense van Suid-Afrika se menseregte gerespekteer moet word, ongeag ras, geslag, godsdiens, ouderdom, taal of kultuur.
Daar kan geen verwesenliking van menseregte wees wanneer een groep 'n ander onderdruk nie. Wanneer menseregte van veral minderhede verontagsaam word, kan die gevolge eindelik vernietigend wees.