Menseregtedag vanjaar was ‘n klap in die gesig van elke Mangaung-inwoner wat die basiese reg tot skoon water ontneem is as gevolg van Bloemwater en die Mangaung-metro se onvermoë om betroubare watervoorsiening te verseker.
Sekere gebiede in die metro se krane is reeds langer as ses dae droog.
Watertekorte wat inwoners van die Mangaung-metro (Bloemfontein, Thaba Nchu, Botshabelo, Wepener, Soutpan, Dewetsdorp en Van Stadensrus) ervaar, is deels die gevolg van gebrekkige Mangaung-infrastruktuur en deels Bloemwater se onvoldoende instandhouding.
Intussen het die metro punte beskikbaar gestel waar inwoners water kan gaan haal. Dié punte is egter beperk en gereeld leeg. Die swak bestuur van die Mangaung-vloot veroorsaak ook ‘n tekort aan watertrokke om in die behoeftes van bejaardes en gestremdes te voorsien.
Die waterkrisis is voortslepend as gevolg van ‘n ingewikkelde fout in die waterpyplyn wat nog etlike dae gaan neem om te herstel.
Reservoirs is besig om leeg te loop en die hele metro gaan waarskynlik binnekort sonder water wees.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om beskikbare water spaarsamig te gebruik en versoek dat inwoners met boorgate die gemeenskap sal bystaan.
Die party doen verder ‘n beroep op konstruksiemaatskappye met watertrokke om hulp aan te bied met die verspreiding van water na woongebiede, tehuise vir bejaardes en kleuterskole.
Hierdie waterkrisis is opnuut ‘n bewys van die ANC se onvermoë om die metro te regeer.
Regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) tas die regte van elke burger aan en lei daartoe dat die lewering van basiese dienste laer as sub-standaard is weens ‘n tekort aan kundigheid.
Die VF Plus spreek ook sy medelye uit met elke familielid, vriend en kollega van mnr. Petros Ntsube, werknemer van Bloemwater, wat verdrink het tydens ‘n poging om die waterprobleem te herstel.