Die ANC-regering gaan selektief te werk met menseregte in Suid-Afrika en minderhede is op dié dag blote toeskouers in hul eie land terwyl Menseregtedag gedenk word.
Menseregte moet inklusief wees om alle groepe en volke te akkommodeer. Gebeur dit nie, soos in Suid-Afrika die geval is, is dit ’n leë en valse gebaar.
Die reg op moedertaalonderrig in Suid-Afrika word nie net misken nie, daar is ’n aanslag op Afrikaans en Afrikaanse skole en Afrikaanssprekendes moes hulle al telkemale tot die howe wend in ’n poging om hulle hierteen te verweer.
Dit is veral die wit en bruin jeug as deel van minderheidsgroepe teen wie gediskrimineer word met Regstellende Aksie (RA) soos onder meer gesien word met die toekenning van studiebeurse.
RA en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ’n direkte aantasting van minderhede se regte aangesien dit sekere mense ontneem van gelyke geleenthede soos om ’n werk te kry of vir staatstenders in aanmerking te kom.
Dit skep nuwe ongelykhede waar ’n sekere deel van die bevolking bevoordeel word ten koste van ander.
Wette wat hieruit voortvloei is diskriminerend teenoor veral die minderheidsjeug en dit kan nie onverwyld voortduur nie.
Die VF Plus doen daarom vandag opnuut ‘n beroep op die regering om te besin oor die rasdiskriminerende wette om almal gelyke geleenthede te gee.
Die party doen ook ’n beroep op elke persoon in die land om oor wedersydse respek te besin en na mekaar uit te reik.
Die ANC is skynheilig met die viering van Menseregtedag terwyl dié dag minderhede in Suid-Afrika eerder herinner aan die skending van hul regte.