Die VF Plus het tydens ʼn streeksforumvergadering van die Tshwane-metro se streek 3, voorgestel dat die metro meer werkspanne ontplooi na dié streek om diensleweringsprobleme op te los.
Streek 3 van die metro bestaan uit 26 wyke en sluit onder meer woonbuurte in soos Atteridgeville, Pretoria-middestad, Arcadia, Groenkloof, Brooklyn, Monumentpark, dele van Waterkloof en Pretoria-Moot.
Die woonbuurte in streek 3 ondervind verskeie diensleweringsprobleme soos stukkende straatligte, slaggate, waterlekkasies en kragprobleme.
Die streeksforum, wat bestaan uit raadslede en amptenare, het voorgestel dat ʼn aksieplan in werking gestel word om diensleweringsprobleme gouer op te los. Daar moet ook op gereelde grondslag oorsig gedoen word om toe te sien dat die werk wel uitgevoer word.
Die groot probleem bly egter dat daar nie genoeg werkspanne is om effektief diensleweringsprobleme op te los nie weens begrotingsbeperkings.
Tans is daar net ses spanne om paaie te onderhou, twee spanne om oorhoofse kragkabels te herstel of te vervang, twee spanne om algemene kragprobleme op te los, een span om die krag weer aan te skakel wanneer dit uitskop en twee mobiele hyskrane.
Die VF Plus is van mening dat die metro sy begroting vir streek 3 moet aanpas ten einde meer werkspanne daarheen te ontplooi veral gesien in die lig van die uitgestrektheid van die gebied en die inkomste wat die metro uit die streek in.


