Die jongste ooreenkoms tussen die grootmaatwaterverskaffer Magalieswater en die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit gaan nie die munisipaliteit se waterkrisis oplos nie.
Tydens ʼn vergadering van die infrastruktuur-portefeuljekomitee is raadslede meegedeel dat die munisipaliteit R3 miljoen per maand aan Magalieswater sal betaal waarvan R2 miljoen sal gaan vir sy agterstallige waterskuld van R300 miljoen.
Die ooreenkoms behels verder dat Magalieswater 4.5 megaliter per dag aan die munisipaliteit sal verskaf waar dit in die verlede 9.5 megaliter per dag was.
Dit beloop 135 megaliter per maand terwyl die munisipaliteit tussen 300-330 megaliter per maand nodig het om in inwoners se basiese behoeftes te voorsien.
Daar is ook 2.5 megaliter per dag uit drie boorgate onttrek om Magalieswater se verskaffing aan te vul, maar op die stadium is net een boorgat funksioneel weens die onlangse vloede wat Thabazimbi getref het.
Dit is die VF Plus se mening dat die ooreenkoms glad nie in die belang van die inwoners is nie. Die party voorsien ʼn grootskaalse watertekort wat kan lei tot ʼn gesondheidsrisiko.
Onderhoud is die enigste oplossing om op te maak vir die vermindering in waterverskaffing, maar Thabazimbi is bloot nie in staat om sy waterinfrastruktuur te onderhou of te vervang om te voorkom dat kosbare water verlore gaan nog voordat dit inwoners se krane bereik nie.
Dit is weereens inwoners wat gaan lei weens die wanbestuur en onbevoegdheid van amptenare wat nie oor die vermoë beskik om basiese dienste te lewer of behoorlik kan beplan om die munisipaliteit se infrastruktuur uit te bou nie.
Die VF Plus sal die saak dophou en die menseregtekommissie (MRK) nader indien inwoners se grondwetlike reg op toegang tot waterverskaffing geskend word.


