Me. Kenetswe Mosenogi, Noordwes se LUR vir finansies, het vandag in haar begrotingsrede onder meer gesê die 2025/2026-begroting het dit ten doel om die grondslag te lê vir ‘n florerende ekonomie in die provinsie.
Die begrotingsprioriteite soos uiteengesit, weerspieël egter die teendeel.
Uit ‘n begroting van R55 miljard word R35 miljard oftewel 64% byvoorbeeld net aan salarisse bestee. Dít in ‘n provinsie wat allermins bekend is vir uitnemende dienslewering.
Inteendeel, sleuteldepartemente soos ekonomiese ontwikkeling, omgewingsbewaring en toerisme, word gekenmerk deur gebrekkige dienslewering en die verval van infrastruktuur onder sy beheer.
Uit ‘n begrotingstoekenning van R4,2 miljard aan die departement van openbare werke, word net R288 miljoen vir die herstel en onderhoud van landelike paaie begroot.
In ‘n grootliks landelike provinsie waar die landbousektor reeds vir jare gebuk gaan onder die verval van paaie, is dit totaal onvoldoende. Plaaslike ekonomieë van kleiner dorpe ly eweneens groot skade weens hierdie verval.
‘n Verdere begrotingstoekenning wat geen verband met die werklikheid inhou nie, is ‘n R12 miljoen-toekenning om by disintegrerende munisipaliteite in te gryp.
Dit is oorbekend dat by verre die meeste munisipaliteite in Noordwes in ‘n gevorderde staat van verval is en slegs met omvattende ingrypings herstel kan word.
Dit is noodsaaklik dat alle beskikbare bronne, finansieel en andersins, onder die beheer van Noordwes se provinsiale regering doeltreffend in die belang van alle inwoners en finansiële sektore aangewend word.
Die herstel van ‘n produktiewe en etiese regering op alle vlakke in Noordwes kan nie langer uitgestel word nie.
Werkskepping en ‘n florerende ekonomie in Noordwes sal slegs realiseer indien die ANC-regering besef dat uitgediende, ideologies gedrewe begrotingsprioriteite bloot die ekonomiese verval bespoedig.


