Skaars langer as ‘n jaar na die bloedige onluste in De Doorns waarin mense dood is en groot skade aangerig is, is Marius Fransman weer besig om die geweldsvure in die gebied te stook en die ANC sal moet pa staan as dit tot geweld lei, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep.
Dr. Mulder sê die ANC moet nou ook besluit van wie die grond kwansuis ‘gesteel’ is.
“President Jacob Zuma sê dit is van swart mense gesteel. Fransman sê nou dis van die Khoi en die San gesteel. Die tyd het aangebreek dat Fransman en die ANC hul woorde tel en besef dat dit verdeeldheid saai en mense aanhits tot geweld.
“Dit is ook ironies dat die ANC met sy beleid van regstellende aksie op hierdie oomblik duisende bruin mense in die Wes-Kaap ‘n werk ontsê en direk daarvoor verantwoordelik is dat baie mense wat ‘n inkomste sou hê, nou ‘n sukkelbestaan moet voer.
“Dit is benewens die miljoene in Suid-Afrika wat weens die ANC se bedrog, korrupsie, rasgegronde wette en swak regering geen werk of inkomste het nie.
“Dan is Fransman vermetel genoeg om aan mense wat wel ‘n werk het te vertel hoe die ANC hul lewens sal verbeter.
“Die minderhede in die Wes-Kaap, en veral die bruin gemeenskap, het met die korrektiewe dienste-saak gesien hoe min die ANC-regering vir hulle voel.
“Die ANC, en die DA wat regstellende aksie steun, sal met die verkiesing uitvind dat die mense van die Wes-Kaap en die hele Suid-Afrika deur hierdie dubbelpratery begin sien, en dat hulle dit by die stembus sal straf deur te stem vir die VF Plus wat onwrikbaar opstaan vir die regte van alle minderhede,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403